Skool vir ambagsprogram gekies
Hoërskool Lydenburg het die afgelope tyd deel gevorm van die Samancor Chroom Ambag Opleidingsprojek nadat die skool gekies is as een van die geskikte sentrums om dié program mee uit te bou.

Hoërskool Lydenburg het die afgelope tyd deel gevorm van die Samancor Chroom Ambag Opleidingsprojek nadat die skool gekies is as een van die geskikte sentrums om dié program mee uit te bou.
Volgens mnr. Johan Loots, hoof van LHS, is die projek daarop geskoei om vakleerlinge in pas-en-draai, elektrisiëns en masjienmonteurders op te lei. “Die doel van die program is om meer ambagsmanne in die werksmag in Lydenburg en omgewing in te stuur en om leerlinge aan ambagte bloot te stel”, vertel Loots.
Hoërskool Lydenburg se leerders word reeds in gr. 10 gekeur deur middel van streng keuringsprosesse soos in die Samancor-werkplek, verduidelik Loots. Volgens hom vind die ambagsprogram in gr. 11 en -12 gedurende die middae vanaf 14:00 tot 17:00 plaas waar twee fasiliteerders in beheer is daarvan. Dit beteken dit egter nie dat dié leerders geen tyd het vir ander aktiwiteite nie.
“Met bietjie beplanning kan elkeen van hul steeds aan buite-kurrikulêre aktiwiteite deelneem.” Na gr. 12 ondergaan elke vakleerling ‘n jaar se opleiding by die Opleidingsentrum in Steelpoort waarna die ambagstoetsing afgehandel word en leerlinge amptelik as ambagslui kwalifiseer. “Dit is wonderlik om te sien hoe Samancor in Lydenburg en omliggende gebiede belê, opleidingsgeleenthede en werksgeleenthede skep en selfs ook beurse vir verdere studies toeken”, sê Loots.
“Die ontwikkeling van ons tegniese sentrums kan nie in ‘n monetêre bedrag omskryf word nie en die feit dat die sentrums nie net geleenthede vir opleiding in die Khuphuka Opleidingsentrum bied nie, maar ook gebruik word vir gewone tegniese skoolvakke soos elektriese en siviele tegnologie, is van onskatbare waarde”, vertel Loots. “Samancor se bydrae is ‘n ongelooflike bate vir ons as skool.”
Hoërskool Lydenburg bedank graag vir Samancor Middelburg, Tubatse Ferrochrome en Eastern Chrome Mines vir die vertroue wat daar in die skool gestel is om die projek daar te begin. “U is ‘n bewys dat ‘n skool soos ons baie sterk kan word indien die sakesektor hulle ondersteun. Ons glo dat hierdie vennootskap nog lank sal voortduur,” sê Loots.





