Nellies baljaar dat die stof staan

Feesgangers geniet musiekprogram, stalletjies en onniekompetisies

Laerskool Nelspruit het op Vrydag 23 Oktober behoorlik feesgevier tydens die Westvaal Dikste Baljaar. Die geleentheid, wat deel was van die skool se 110de bestaansjaarviering, was ‘n reusesukses en het deur die loop van die dag altesaam 2 430 feesgangers gelok.

Die dag het op ‘n vrolike noot afgeskop toe Ronnie die Renoster die fees amptelik geopen het. Die Nellies kon van vroegoggend af na hartelus baljaar en die verskeidenheid aktiwiteite en springkastele geniet.

Een van die hoogtepunte was die Nellies Got Talent-kompetisie, waartydens leerlinge hul talente ten toon gestel het. Jay Vee Britz is as die junior wenner aangewys, terwyl Chris Scheepers met die senior titel weggestap het. Die groep Lion King het die toekenning vir beste groep ontvang.

Agter: Elsje Braun, Caylee Kotze, Gabriella Stanley, Amelia Luus, Merike de Jager, Lua van Coller

Voor: Kady Snyders, Elzeré Meyer, Vanessa Badenhorst.
Agter: Elsje Braun, Caylee Kotze, Gabriella Stanley, Amelia Luus, Merike de Jager, Lua van Coller

Voor: Kady Snyders, Elzeré Meyer, Vanessa Badenhorst

Die Gross Factor-kompetisie het vir groot vermaak en heelwat lag gesorg. Juffrou Amanda van Aarde het as wenner uit die stryd getree en ‘n selfoon en kontantprys gewen.

Die feesprogram het ook uitstekende musiekvermaak gebied, met Anton Botha, Brian Wilkinson, Spoegwolf en die Borrie Band wat opgetree het.

Een van die spesiale oomblikke van die dag was toe die Nellies saam met Spoegwolf op die verhoog kon sing. Danie du Toit het spesiaal ‘n liedjie vir Laerskool Nelspruit geskryf, en die geleentheid om dit voor die feesgangers op te voer, was ongetwyfeld een van die dag se hoogtepunte.

Die verskillende grade het ook hul slag gewys met stalletjies wat alles van heerlike eetgoed tot prettige aktiwiteite gebied het. Daar was iets vir elke smaak en ouderdom. Die onderwysstudente het verder tot die feestelikhede bygedra met ‘n konsert wat vir groot vermaak en talle glimlagte gesorg het.

Danie du Toit.
Danie du Toit.

Laerskool Nelspruit bedank Westvaal Motor Group, die hoofborg van die Westvaal Dikste Baljaar, vir sy ruimhartige ondersteuning en betrokkenheid by hierdie besondere mylpaal.

Die skool spreek ook sy dank uit teenoor al die ander borge wat tot verskeie aspekte van die fees bygedra het, waaronder die feesbeplanning, speelpark, plakkaatdrukwerk, klank en verhoog, en die voorsiening van ‘n kragopwekker.

Die skool bedank verder elke ouer, personeellid, leerling, vrywilliger en lid van die gemeenskap wat gehelp het om die dag so suksesvol te maak. Dit is juis hierdie samewerking en ondersteuning wat die Nellie-gees so spesiaal maak.

Die Westvaal Dikste Baljaar was nie net ‘n dag van pret, musiek en vermaak nie, maar ook ‘n viering van 110 jaar se geskiedenis, tradisie en gemeenskapstrots.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Supplied content

This content originated outside of Caxton Local Media, but we thought that you might find it interesting.
Back to top button