NELSPRUIT – Gaste van ‘n bruidspaar wat vanmiddag die knoop sou deurhaak is ongedeerd na ‘n gewapende rooftog vanoggend. Die groepie trou-gaste is vroeg vanoggend by Alkmaar deur gewapende rowers oorval. Niemand is beseer nie.
Volgens mnr. Jacques Meiring, operasionele hoof van Bossies Community Justice wat saam met Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit op die toneel was, was die slagoffers twee paartjies wat vanmiddag ‘n troue in die omgewing sou bywoon.
Hy het vertel dat hulle geslaap het toe die drie verdagtes by die kamer inbars. Hulle het vermoedelik twee wagte oorrompel. Volgens Meiring was ten minste een van die verdagtes definitief gewapen.
Die slagoffers is glo vasgebind voor die verdagtes met hul tablet-rekenaars, selfone, kameras en beursie met kontant en kredietkaarte gevlug het.
Die bruilofgangers kon daarin slaag om alarm te maak en is deur Bossies en Hi-Tech gered. Die polisie is ook ontbied. Niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie.
Die bruilof sou vanmiddag voortgaan.
