LYDENBURG – Slegs 19 dae voor Kersfees is ‘n 28-jarige man se lewe tragies kortgeknip.
Mnr. Tinus Mynhardt is Vrydag sewe keer geskiet, waarvan ses skote hom glo in die rug getref het. Mynhardt het glo saam met vriende gekuier voor die moord plaasgevind het. Toe hy die volgende oggend nie vir sy werk as voorman by Twee Riviere myn opdaag nie, het besorgde vriende en kollegas begin ondersoek instel.
Vriende het met skok en afgryse by die polisie verneem dat hy dieselfde aand slegs drie kilometer buite die dorp op die Burgersfort-pad vermoor is.
Sers. Gerald Sidebe, provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. “Dit het Vrydagaand omstreeks 22:00 plaasgevind op die pad tussen Lydenburg en Burgersfort, net na die Skhila-brug. Inwoners het glo die geweerskote gehoor en die polisie in kennis gestel. Toe lede van die polisie opdaag het hulle op sy liggaam afgekom.”
Hy bevestig dat verskeie koeëldoppies op die toneel gevind is. “Ons kan op die stadium nog nie bekend maak hoeveel verdagtes voortvlugtig is nie. Ons is ook nie seker watter items alles geroof is nie.” Laeveld Media het egter verneem dat slegs ‘n selfoon en kontant uit sy beursie gesteel is.
Mynhardt was ses jaar gelede in ‘n ondergrondse mangaangas-onploffing by ‘n Rustenburg myn waar hy toé gewerk het en het toe ook die dood vrygespring. Dit is nog nie seker hoekom Mynhardt op dié pad was daardie aand nie en ook nie hoekom hy afgetrek het net na die Skhila-brug nie. Hy is moontlik tot stilstand gedwing.
Verskeie mense het vandag boodskappe op sy Facebook-blad geplaas. Daar was ook reeds ‘n ruiker gelê by die stukkie pad waar hy koelbloedig vermoor is. Een van die inskrywings op die blad lui; “Ek dink in gebed aan julle. Het nie vir Tinus geken maar ek is geskok en hartseer dat sulke dinge in ons omgewing gebeur. Baie sterkte vir julle.”
Mnr Gerhard Rossouw, ‘n vriend en kollega van Mynhardt, meen dat almal wat hom geken het kon getuig van die wonderlike mens wat hy was. “Almal praat net goed van hom. Ek het nog nie ‘n meer positiewe mens in my lewe teegekom nie. Hy sou vir vriende en vreemdelinge deur vuur loop.”
Sedibe het bevestig dat ‘n saak van moord ondersoek word. Enige iemand wat moontlik inligting het rakende die voorval word versoek om Lydenburg SAPS te kontak by 013-235-1311.
Rossouw self het ‘n beloning van R10 000 uitgereik vir enige inligting wat kan lei tot die arrestasie van die verdagte(s). Rossouw kan geskakel word by 082-909-5966.
