Local newsLocal sportNewsNewsSport

Function Junction is hier om te bly

Hul spesialiteit is ongetwyfeld die allerheerlikste ILLY koffie wat ‘n smaaksensasie op sy eie is. Saam met ‘n heerlike sny wortel-of ander koek van jou keuse is dit soete verleiding op sy beste.

BARBERTON – Teen die tyd weet die meeste Barbertonners van die koffiekroeg, Function Junction, wat gedurende Maart hul deure oopgemaak het in die ou tennis klubhuis. Hierdie klubhuis, wat vir bykans 12 jaar in onbruik was en deur vandaliste getakel is, het feitlik oornag ‘n transformasie ondergaan nadat Helena Esterhuizen dit onder hande geneem het.

Vandag is dit ‘n gunsteling eetplek waar jy alles van watertand quiche tot veerligte pannekoek op die spyskaart sal vind.

Nogtans was Helena nie altyd in die spyseniers / restaurant bedryf nie en ons het by haar gaan aanklop om te hoor hoe dit dan nou eintlik gebeur het dat sy hierdie perd opsaal.

Die Esterhuizens is reeds vanag 1980 af woonagtig in Barberton en Helena, wat van nature ‘n kreatiewe vrou is, het haar in 1982 as ‘n tekenaar bekwaan en vir die volgende 18 jaar was dit dan ook haar beroep. Daarop het verskeie kursusse in skoonheid gevolg en vir die daaropvolgende agt jaar het sy haar eie skoonheidsalon vanaf haar huis bedryf.

Veelsydig soos sy is, en op soek na nog ‘n uitdaging, het sy die eiendomsmark betree en die agentskap Huizen eindomme is gebore. “Na drie jaar van baie harde werk het ek verkoop,” vertel Helena.

Reeds gedurende die laat 2000’s het sy die behoefte aan ‘n koffie en pannekoek bedryf in die dorp raakgesien en dit was ook nie lank nie, in dieselfde jaar nog om presies te wees, dat sy en haar eggenoot ‘n semi-huis aangekoop het met die oog op hierdie tipe eetplek. Nadat die herstelwerk gedoen is, het hulle besluit om te verkoop aangesien sy net nie op daardie stadium die tyd kon inruim om so ‘n plek te bestuur nie.

Helena se man, Christo, ‘n kranige tennisspeler asook lid van die klub het daagliks aanskou hoe die tennisklub agteruitgaan en kort daarna het hulle met ‘n voorstel na die kommitee gegaan om die plek in ‘n koffiewinkel te omskep.

Van ‘n skamele ses lede en R600 waarmee hulle afgeskop het, staan die ledetal tans op 46. Helena se “Knap gedaan aan die Barbertonners wat aangesluit het. Ons gaan elke dag van krag tot krag en ons streef daarna om diens van hoogstaande gehalte te handhaaf.,”

Function Junction is nie net ‘n koffiewinkel nie, maar bied die geleentheid aan die publiek om van hul fasiliteite gebruik te maak vir kinderpartytjies, privaat funksies asook korporatiewe funksies. Spyseniering is nog ‘n diens wat aan die publiek gebied word en almal wat al ‘n platter by hul bestel het, kan getuig van die watertand hors d’oeuvres waaruit die bord bestaan. ‘n Onlangse toevoeging is die braaifasiliteite en op ‘n Vrydagaan vanaf 18:00 kan gesinne saam met hul vriende gerus ‘n draai gaan maak. Hulle beskik oor ‘n gelisensieerde kroeg en alles is by Function Junction verkrygbaar om jou braai onvergeetlik te maak soos die braaipakke, slaaie, pap en sous.

Helena is baie beskeie wanneer sy vertel “Ek het nie soseer ‘n passie vir onthaal en kos nie, alhoewel ek baie van lekker kos hou, maar ek het ‘n passie vir besigheid en probeer om my tekortkominge en kennis op ander terreine aan te vul deur meer oor die onderwerpe te wete te
kom,”

Hul spesialiteit is ongetwyfeld die allerheerlikste ILLY koffie wat ‘n smaaksensasie op sy eie is. Saam met ‘n heerlike sny wortel-of ander koek van jou keuse is dit soete verleiding op sy beste. Middagetes is lig en geurig en natuurlik is daar geen lekker eetding as ‘n pannekoek op ‘n reenerige dag nie, en jy sal nerens in Barberton die verskeidenheid pannekoeke kry wat jy by hierdie stylvolle koffiekroeg kan bestel nie.“Dankie aan al ons gereelde kliente vir julle ondersteuning, dit word hoog op prys gestel. Welkom aan almal wat ons nog nie besoek het nie, kom kyk gerus wat ons als bied, dit is dalk net waarvoor jy gewag het,” nooi Helena almal hartlik uit.

Function Junction bied tans ook aan besighede die geleentheid om te adverteer op advertensie raampies op die hoek van President en Hillary Strate – dit word gedoen om die fondse van die klub te versterk.

Indien jy as lid van die klub wil aansluit, of meer inligting wil bekom oor hoe om ‘n funksie te boek, of ‘n kwotasie vir ‘n funksie verlang, kontak hulle gerus by 082-295-3661 vir verdere inligting.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button