Perde doodgeskok
LYDENBURG – Vyf perde is Saterdag dood in ‘n fratsongeluk op die Sterkspruitplotte. Die perde, drie merries en twee reuns, van dr. Marietjie Malan – staatsveearts in die dorp – is doodgeskok toe ‘n kragpaal meegegee het en op die diere geval het. Dié pale was met die koerant se aankoms duidelik verrot en dis …
LYDENBURG – Vyf perde is Saterdag dood in ‘n fratsongeluk op die Sterkspruitplotte.
Die perde, drie merries en twee reuns, van dr. Marietjie Malan – staatsveearts in die dorp – is doodgeskok toe ‘n kragpaal meegegee het en op die diere geval het.
Dié pale was met die koerant se aankoms duidelik verrot en dis duidelik dat daar jare laas enige instandhoudingwerk gedoen is.
‘n Hartseer Malan het aan die koerant gesê dat dit hulle perde was waarmee hulle gereeld boeresport gedoen het. “Ons het die perde twee keer ‘n dag gesien. Hulle het gekom as ons hulle geroep het. Dié Saterdag het ons weer gegaan om hulle te gaan voer. Die krag het halfdrie afgegaan en drieuur is ons uit om hulle te gaan voer. Net twee het gekom toe ons hulle roep.”
Sy meen dat dié diere baie verskrik was en nie eens wou vreet nie.
“My man het na die ander gaan soek en toe op hulle afgekom waar hulle by die kragdrade lê.”
Malan het een van die perde al vir 18 jaar. “Hulle is onvervangbaar. Waar kry jy weer ‘n perd wat stilstaan vir ‘n vierjarige kind? Hulle was soos ons kinders,” vertel sy.
Sy se dat Eskom uitgekom het om ondersoek in te stel. Daar is egter bevind dat dit munisipale lyne is. “Daar is geen plate of nommers op die pale nie. In die sewe jaar wat ons die grond huur was daar nog nie een enkele keer inspeksie op die pale gedoen nie.”
Volgens haar het munisipale werkers uitgekom om die pale te herstel. “Hulle het bloot net gekom om jammer te sê.”
Malan wys die koerantfoto’s wat sy geneem het van die herstel van die pale. Ekstra pale is slegs staangemaak langs die reeds verouderdes en met ystergespes vasgemaak.
Sy bevestig dat sy regshulp gaan inwin om ‘n eis teen die stadsraad in te dien. “Dit is ‘n baie groot verlies wat ons gely het. Afgesien van die emosionele aspek is dit baie duur om perde aan te hou. Daai tipe perde kan egter nie vervang word nie. Elkeen van hulle is uitgekies en daar is lank na hulle gesoek.”
Die karkasse van die diere is die volgende dag na twee verskillende aasvoël-restaurante geneem.
Mnr. Neels Bothma het die verwydering van drie van die karkasse behartig. Volgens hom is die bedrywing van ‘n aasvoël-restaurante ‘n baie sensitiewe kwessie. “Die karkasse mag nie besoedeld wees nie anders kan die voëls, wat reeds ‘n bedreigde spesie is, vrek na aanleiding van sekere medikasie wat aan die diere toegedien is.”
Die krans-aasvoël (Cape vulture) kom natuurlik in dié gebied voor. Die oorblywende twee karkasse is na Brian en Gerda Whitehorn se plaas Paardeplaats geneem waar dié voels ook dikwels voorkom.
Bothma wil graag vir mnr. Roelf Castelyn van Longtom Insleepdienste bedank. Castelyn het een van sy insleepvoertuie beskikbaar gestel vir die verwydering van drie van die karkasse.

