NELSPRUIT – Die man wat daarvan aangekla word dat hy ‘n sewejarige kind na bewering seksueel gemolesteer en daarna glo wreed aangerand en met ‘n skêr keel-af probeer sny het, het Donderdag ‘n skokkende getuienis in die hof gelewer.
Mnr. Francois Steynberg (35) staan tereg op aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer en poging tot moord.
In ‘n uitgerekte hofverskyning het Steynberg emosieloos uitgebrei oor sy daggamisbruik, en het so ewe met sy hande die grootte van die daggasigarette wat hy gerook het, aangedui.
Hy het ook vertel dat hy die dwelms gebruik en “speletjies gespeel het” ten tye van die voorval. Op navraag van die staatsaanklaer, adv. Isabet Erwee oor watter tipe speletjies hy na verwys, het hy breedvoerig uitgebrei oor die spioeneringspeletjies.
Hy het getuig dat hy nie kan onthou dat
hy die slagoffer se keel probeer afsny het nie, en ook nie die beweerde aanval met ‘n mes op sy skoonsuster nie.
Steynberg het ook gesê hy onthou hy het dagga saam met sy skoonsuster gerook en gedrink en dat hy daarna in ‘n polisiesel met ‘n geswelde gesig, gebreekte kakebeen en bloed in sy mond wakker geword het.
Hy het bygevoeg dat hy nooit aan groepsaktiwiteite of sport deelgeneem het nie en dat hy eerder tuisgebly het om speletjies te speel, te drink en dagga te rook.
Erwee het sy geheue bevraagteken en
gesê dat hy geen probleem ondervind om sekere besonderhede van die aand te onthou nie, terwyl hy ander skynbaar nie kan herroep nie.
Sy het ook aangevoer dat aangesien hy nie kan onthou of hy die misdrywe gepleeg het of nie, hy dit nie kan ontken nie. Steynberg het hiermee saamgesten.
Ander aspkete van die saak wat deur Erwee uitgewys is, is dat hy gepoog het om die meisie se bene oop te forseer, en dat hy sy vinger in haar oog gedruk het. Hy het ook gedreig om die slagoffer se keel af te sny as sy ‘n geluid sou maak. Toe sy uitroep het hy haar keel met ‘n skêr oopgekloof. Verder het die staat aangevoer dat hy nie te dronk was om haar uit die bed te tel nie.
Die slagoffer se familie was afwesig tydens die hofverrigtinge. Die saak is tot 28 Februarie vir deskundige getuies ter verdediging van Steynberg uitgestel.
Lees meer hier
Skêrsaak tot volgende jaar uitgestel
Skêrsaak beskuldigde eersdaags weer in hof
