CrimeHard newsNewsNewsUpdate

Victor Wilkens in Britse tronk vir aanranding

Wilkens het skuldig gepleit op 'n mindere klag van aanranding en moes 'n jaar agter tralies deurbring

NELSPRUIT – Terwyl me. Amanda Joubert (23) nog in ‘n diep koma verkeer en vir haar lewe veg, kan Laevelder vandag onthul dat haar kêrel al tyd in die tronk deurgebring het vir aanranding.

Joubert het verlede week van ‘n balkon geval en is baie ernstig beseer (sien storie).

Victor Wilkens (30) wat ten tye van die voorval saam met haar was, is juis verlede jaar aangekla van aanranding op Joubert, maar sy het die klag later teruggetrek.

Laevelder het die week bevestig dat Wilkens in 2010 tronkstraf in Engeland uitgedien het vir ‘n soortegelyke misdaad.

BBC News het destyds berig dat ‘n Filippynse burger, mnr. Jaypee Maderazo (29) in Augustus 2010 in Harlesden, Engeland dood is. David van der Riet (38) en Wilkens is albei van sy moord aangekla. Maderazo was verslaaf aan amfetamien en Van der Riet het hom van dié dwelm voorsien. Hy het Van der Riet 1 500 pond geskuld en dié het hom na ‘n adres in Kilburn, Londen gelok.

Maderazo is met ‘n enkele hou bewusteloos geslaan, in ‘n voertuig geboender en in Harlesden afgelaai. Hy is enkele dae later aan erge kopbeserings dood.

Die klag teen Wilkens is laat vaar toe Van der Riet op ‘n klag van manslag en die besit van dwelms skuldig gepleit het. Hy dien tans tronkstraf van ses jaar uit. Wilkens het skuldig gepleit op ‘n mindere klag van aanranding en moes ‘n jaar agter tralies deurbring.

Ter plaatse word Wilkens ook tans aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat me. Yolande Redelinghuys in Oktober verlede jaar by Stables aangerand is.

Intussen het me. Celia Joubert, Amanda se ma, gister by navraag gesê dat haar dogter se toestand nog uiters kritiek, maar stabiel is.   “Sy is in ‘n baie diep koma. Dokters dink nie dat sy binne die volgende twee weke sal wakker word nie.” Sy het die personeel van Mediclinic Nelspruit bedank vir hul puik diens, asook alle belangstellendes vir hulle gebede en wense vir herstel vir haar dogter.

• Kapt. Dawie Pretorius, Nelspruitse polisiewoordvoerder, het bevestig dat ‘n dossier van aanranding met die doel om ernstig te beseer geopen is, na die val waarin Joubert beseer is.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button