NELSPRUIT – Die polisie is op soek na vyf verdagtes wat glo gisteraand ‘n huis in Hilltops probeer beroof het. Die eienaar van die huis is in die been geskiet.
Mnr. Nico Grobler, operasionele hoof van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit, het gesê mnr. Nico van Wyk, die eienaar van die huis wat aangeval is, het glo uitgegaan toe hy ‘n lawaai by sy skuur gehoor het.
“Hulle het besoekers gehad wat by hulle aan huis gekuier het. Toe hoor hy ‘n geraas by die stalhek. Hy het die stal oopgesluit. Die verdagtes was daar, en een het ‘n vuurwapen gehad. Hulle het sonder om ‘n woord te sê, ‘n skoot afgevuur.
“Twee van die verdagtes, wat nie gewapen was nie, het in in die huis ingestorm. Die vroulike kuiergas het toe glo haar rewolwer uit haar handsak uit gehaal. Die verdagtes het gevlug, maar sy het hulle agterna-gesit en ‘n skoot afgetrek.”
Bossies Community Justice and die polisie was ook op die toneel, en die area is gefynkam. Volgens Grobler was daar glo so drie ure later, nog ‘n voorval ongeveer 1km van die toneel af.
Die inwoner van dié huis het gesê iemand buite het kluite teen sy venster gegooi. Hy het nie uitgegaan nie, en van binne skote na buite gevuur.
Grobler het gesê hy kan nie sê dat dit dieselfde mense was nie, maar het bygevoeg dat Hi-Tech oor die naweek die hele gebied sal patrolleer.
“Dit klink soos ‘n groepering van vyf waarvan een gewapen is. Dis hulle taktiek (om mense te probeer kry om uit te gaan,” het hy gesê. “Mense moenie uitgaan as hulle iets hoor nie. Jou plek is veilig tot jy dit oopmaak.”
