CrimeNews

Beplande inbraak loop skeef

Die volledige storie oor die een vermeende rower wat glo sy makker geskiet het.

MALALANE – ‘n Vermeende inbreker het Woensdagaand glo sy makker tydens ‘n beoogde inbraak geskiet.

Mnr. Eddie Stieger was ten tye van die voorval saam met sy gesin by hul huis in Neos Estates. Volgens Stieger het die twee verdagtes net na middernag vermoedelik die huis deur die kombuisvenster betree, wat die alarm laat afgaan het.

“Ek het by die kamerdeur uitgekyk en die een man gesien. Ek het ‘hey’ geskree en twee skote het afgegaan.”
Hy het verduidelik dat die een verdagte in die sitkamer was, en die ander in die kombuis.

“Die een in die sitkamer het seker geskrik toe ek skree, en toe die ander makker van die kombuis af verbyhardloop, hom geskiet,” het Stieger verduidelik.

Die verdagte in die sitkamer het toe ook na wat verneem word, die glasdeur in die vertrek gebreek en ontsnap, terwyl die ander deur ‘n venstertjie in die studeerkamer gevlug het.

Stieger het die paniekknoppie gedruk en J&M Sekuriteit was binne 10 minute op die toneel. Die polisie was omtrent vyf minute later daar.

Een van die koeëldoppies is later in ‘n portret in die gang gevind. Stieger het sy dank teenoor mnr. Machiel Kuhn van J&M Sekuriteit uitgespreek.

“Hy was in die middel van die nag manalleen by die huis en het na die verdagtes gesoek.”

Sers. Gerald Sedibe, woordvoerder vir die provinsiale polisie, kon bevestig dat ‘n skoot afgevuur is en dat ‘n saak van huisbraak ondersoek word. Niks is egter gesteel nie en Sedibe kon nie sê of ‘n verdagte gewond is nie, aangesien niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie.

Enigiemand met inligting kan lt. Cedric Banda by 082-449-0291 skakel.

Lees die vorige berig hier.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button