Honde vergiftig in Joubert Straat
Alhoewel diere wat deur booswigte vergiftig word sodat hulle toegang tot 'n perseel kan kry geen nuutjie is nie, is dit nou besig om totaal hande uit te ruk in die dorp.

Alhoewel diere wat deur booswigte vergiftig word sodat hulle toegang tot ‘n perseel kan kry geen nuutjie is nie, is dit nou besig om totaal hande uit te ruk in die dorp.
In die laaste maand alleen is talle honde in Joubert Straat en omgewing vergiftig en feitlik al hierdie diere is dood. Sondag skuins na middernag, het Ursula van Wyk van Joubertstraat wakker geword van haar honde se geblaf.
Sy het gaan ondersoek instel en deur die venster gesien hoe twee mans onder die boom buite die erf staan en besig was om iets oor die heining te gooi.
“Ek het vir hulle geskree: ‘What are you doing?’ en dis toe dat hulle weghardloop,” vertel sy.
Nadat sy haar man wakker gemaak het, het hulle Barberton Buurtwag asook Hi-Tech in kennis gestel. Die Van Wyk’s is buitentoe om te gaan kyk wat aangaan en het op stukke wors wat die erf vol lê, afgekom.
“Op daardie stadium het ons boerboel reun, wat redelik groot is, geloop en rondsnuffel op die grasperk, en alhoewel ons vermoed het die vleis is vergiftig, het hy nog ongedeerd voorgekom.”
Daarna het hulle die twee boerboele toegemaak en teen die tyd wat hulle opgestaan het, om 05:30 die volgende oggend, was dit reeds te laat vir ‘n veearts en die reun het net voor 06:00 gevrek.
Ursula vertel dat dit nie die eerste voorval in in hierdie straat en omgewing is nie. Dieselfde nag wat haar hond vergiftig is, het die buurvrou skuins oorkant die straat se diere ook deurgeloop. Hulle het hul honde blykbaar veearts toe geneem en ons kon nie vasstel of die honde nog lewe nie.
“Skaars twee weke gelede is Jaco Joubert en Bertus Nel se honde ook vergiftig en sover ek weet kon hulle ook nie gered word nie. Wat gaan gebeur as ‘n kleuter buite speel en van daardie vleis inkry?” vra sy.
Volgens haar is daar nie eintlik iets op hulle werf wat booswigte sal wil steel nie en sy vermoed dat haar honde doodgemaak is sodat hulle toegang tot haar buurman se erf, waar daar blykbaar ‘n paar motorfietse is, kon kry.
Barberton Times wil ‘n beroep op die gemeenskap doen om hulle diere snags binne te hou. In ruil vir die lojaliteit, beskerming en liefde wat jou troeteldier jou gee, maak seker hy is ook veilig deur hom eerder binne te laat slaap. Hy sal jou nog steeds wakker maak indien daar gevaar is, maar dit sal die kanse dat daar iets met hom kan gebeur aansienlik verminder.
“Baie dankie aan Barberton Buurtwag wat so spoedig opgedaag en die skelms agterna gesit het,” se Ursula.
Ongelukkig kon hulle nie vasgetrek word nie.
Stel Hi-Tech, jou sekuriteitsmaatskappy of die SAPD onmiddellik in kennis indien jy onraad vermoed en let op na honde wat onnodig in die nag blaf. Dit is ook alombekend dat skelms deur die strate loop en fluit om te hoor by watter huise daar honde is, wees dus ook bedag hierop en maak dadelik alarm.
