NELSPRUIT – ‘n Vrou van Hermanus is desperaat opsoek na haar seun van wie sy in Desember 2011 laas iets gehoor het.
Me. Helen Gertenbach het verlede week ‘n advertensie in Laevelder se snuffelgids laat plaas waarin sy haar seun, mnr. Gidius (GG) Gertenbach, geluk wens met sy verjaardag op 31 Maart. Hy sou dan 41 jaar oud geword het. “Ons mis en verlang vreeslik baie na jou. Tonne liefde,” staan onder andere in die advertensie, met ‘n kontaknommer vir me. Gertenbach.
Die koerant het haar toe geskakel om die storie agter die storie te hoor. Sy het oombliklik begin huil toe Laevelder haar uitvra oor haar seun. Sy het verduidelik dat hy op 15 Desember 2011 by hulle in Hermanus gekuier het en toe daar weg is. Hy het haar op 22 Desember gekontak en vertel dat hy werk gekry het op ‘n plaas tussen Nelspruit en Witivier. Dit was die laaste wat sy van hom gehoor het.
“Hy het ons elke week gebel, soms tot vier keer ‘n week. Toe hy my nie gebel het op my verjaardag in Januarie nie, het ek geweet daar is groot fout,” het sy bygevoeg. Hulle het begin navraag gedoen by elke lykshuis en hospitaal in die omgewing, sonder sukses.
Hy is uiteindelik by die polisie as vermis aangemeld. Kapt. Dawie Pretorius, Nelspruitse polisiewoordvoerder, het by navraag gesê dat hulle nog steeds na Gertenbach soek en dat enige iemand met inligting oor waar hy hom moontlik mag bevind, sers. Nicholas Khoza moet skakel op 079-317-1147.
Volgens me. Gertenbach kry haar seun erge epileptiese aanvalle en sy is bang hy het dalk breinskade opgedoen en kan nie onthou wie hy is nie. Sy het versoek dat mense met inligting haar ook kontak op 082-824-3105.
