Hard newsNewsNews

Renosters se gewildheid neem toe

Volgens ons bevindinge het die nie-verbruikbare waarde van renosters vir die wildtuin van R 39.5 miljoen tot R 112.4 miljoen toegeneem. Renosters is ook die enigste spesie van die groot vyf wat se gewildheid toegeneem het

SKUKUZA – Renosters se gewildheid as toeriste-trekpleister neem toe en hul waarde vir Suid-Afrikaanse toerisme is groter as ooit.

Dít is die bevinding van prof. Melville Saayman, direkteur van Tourism Research, Economics, Environment and Society aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Hy en sy span het ‘n onlangse studie by die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) onderneem om te bepaal of toeriste se bereidwilligheid om renosters te sien die afgelope drie jaar verander het, in verhouding met die res van die Groot Vyf.

“In 2011 het 26.6% van respondente in ‘n soortgelyke studie gesê dat hulle bereid is om te betaal om renosters te sien. Dit het in 2013 tot 36.9% toegeneem. Volgens ons bevindinge het die nie-verbruikbare waarde van renosters vir die wildtuin van R 39.5 miljoen tot R 112.4 miljoen toegeneem. Renosters is ook die enigste spesie van die groot vyf wat se gewildheid toegeneem het,” sê Saayman.

Meer as 1 000 renosters is verlede jaar deur tropers afgemaai en vanjaar is daar reeds 277 vir hulle horings geskiet. Saayman is van mening dat renosters se versnellende bedreigdheid ‘n groot rol in hulle gewildheid speel. Dit onderstreep ook die waarde van die sowat 18 000 renosters wat in Suid-Afrika oor is.

Saayman se onlangse opname wys dat die Groot Vyf se besigtigingswaarde vir nagenoeg R500 000 van die wildtuin se R 2 miljard inkomste verantwoordelik is. Renosters maak nagenoeg R 112 500 000 hiervan uit.

Hoewel die departement van omgewingssake vandeesweek ‘n memorandum van verstandhouding saam met sy Mosambiekse eweknie gaan onderteken in ‘n poging om renosterstropery hok te slaan, is Saayman van mening dat dit nie genoeg is nie. “Ek dink nie Mosambiek het die kapasiteit om stropery voldoende aan bande te lê nie,” sê Saayman.

Volgens hom rus die onus by die regering wat hul standpunt jeens stropers moet verstewig ten einde dié spesie te bewaar.

“Ons strawwe vir stropers is heeltemal te lig. Dit dien nie as ‘n afskrikmiddel nie. Ons moet Kenia se voorbeeld volg waar persone wat met ivoor of renosterhorings gevang word tot met 230 000 Amerikaanse dollar beboet word, of tot lewenslange tronkstraf gevonnis word. Dit klink dalk verregaande, maar miskien is dit tyd dat die heining tussen Suid-Afrika en sy buurstate weer opgerig word. Baie stropers is voetsoldate wat vanuit die buurstate renosters hier kom jag,” aldus Saayman.

“Ons kan nie bekostig dat die renoster uitgeroei word nie. Uit ‘n toerisme-oogpunt kan dit noodlottig wees. Daarbenewens is dit ‘n wonderlike dier. Dis óns spesie, óns erfenis en miljoene mense in die wêreld wil hom hier kom sien.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button