
NELSPRUIT – ‘n Bekende leraar van ‘n charismatiese gemeente in die stad het enkele ure tevore sy eie lewe geneem – op die kerk se perseel.
Teen druktyd was die polisie nog nie eens op die toneel nie. Famielielede, werknemers van die kerk en lidmate het egter geskok en verslae buite die kantore rondgestaan. ‘n Vrou het droewig gehuil dat “dit haar skuld was” terwyl iemand haar omhels het.
Hoewel die leraar se gesinslede reeds van sy dood in kennis gestel is en na wat verneem word, ook op die toneel is, word sy identiteit eers weerhou sodat ander familielede ook in kennis gestel kan word.
Volgens ‘n ingeligte bron wat om professionele redes eerder anoniem wil bly, is die leraar omstreeks 10:30 laas lewend gesien. Sy liggaam is sowat ‘n uur later in ‘n badkamer in sy kantoor ontdek.
Hy het vanaf ‘n venster gehang en geen gemene spel word op dié stadium vermoed nie. Dit is nie duidelik of hy ‘n brief agter gelaat het nie.
Paramedici van Hi-Tech Medical Services het hom op die toneel dood verklaar.
