Kunsterapie gee nuwe hoop aan depressielyers
Depressie is ‘n woord wat deesdae al hoe meer en meer in die loop van normale gesprekke voorkom.

Depressie is ‘n woord wat deesdae al hoe meer en meer in die loop van normale gesprekke voorkom.
Gelukkig is daar mense wat kan help om depressielyers uit hierdie donker dieptes te lig.
Een so ‘n vrou is Nemesia van Staden, ‘n geregistreerde arbeidsterapeut wat tans besig is met haar derdejaarkwalifikasie in kunsterapie. Alhoewel arbeidsterapie ‘n wye veld dek, het hierdie rustige jong vrou ‘n absolute passie vir psigiatrie, en is besonder opgewonde oor kunsterapie en die mate waarin dit pasiënte kan help om gesond te word en ‘n beter kwaliteit lewe te lei.
Nemesia, wat reeds in 2000 as arbeidsterapeut gegradueer het, het eers ‘n draai in Londen gaan maak voor sy vyf jaar gelede by die span van Barberton Algemene Hospitaal aangesluit het as terapeut.
Na voltooiing van haar driejaarkursus in kunsterapie, sal sy ‘n volwaardig gekwalifiseerde kunsterapieberader wees en kunsterapie sal dus een van die modaliteite word wat sy sal gebruik. In hierdie hoedanigheid, sal sy ook geregistreer word by die raad van beraders. Teorie, praktiese werkstukke, asook ‘n tesis in haar derde jaar maak alles deel uit van die kursus, en die opleidingsinstituut, Helios het tans ook ‘n vierde jaar ingestel wat sal fokus op gemeenskapswerk. Nemesia se tesis sal fokus op depressielyers en sy het ons bietjie meer vertel oor die definisie, metode en waarde van kunsterapie en watter verskil dit in hierdie mense se lewens kan bewerkstellig.
Dit was duidelik uit Barberton Times se gesprek met Nemesia, dat jare voor hierdie denkrigting algemeen aanvaarbaar was, sy reeds met die gedagte gespeel het van alternatiewe benaderings om depressielyers te help.
“Op skool het ek al belanggestel in die idee van dramaterapie. ‘n Voorligter het my egter vertel dat dit nie kan werk nie, daarom het ek die voortvarende gedagtes dat sielkunde met kreatiewe aktiwiteit/uitdrukking gekombineer kan word, laat vaar. Maar baie jare later het ek weer daaraan gedink,” vertel Nemesia. Uit eie ondervinding het Nemesia geweet dat skeppende aktiwiteit van onskatbare waarde is.
“Ek sukkel self om met my probleem na ‘n berader te gaan en daaroor te praat. ‘n Paar jaar gelede het ek by ‘n kunsterapiegroep ingeskakel en die effek was verstommend,” sê sy.
Na ‘n baie lang gesukkel om ‘n instituut of universiteit in Suid-Afrika te vind wat kunsterapie aanbied, en na sy aanvanklik slegs oorsese instansies kon opspoor wat dit doseer, was befondsing die groot vlieg in die salf. Die kostes het ongeveer R90 000 per jaar beloop.
“Ek was oorstelp van vreugde toe ek uiteindelik ‘n instansie gevind het wat dit aanbied, maar daar was geen manier waarop ek dit self sou kon befonds nie.”
Met haar positiewe ingesteldheid en die wil om haar passie na te streef, het haar soektog haar gelei na Helios, die opleidingsinstituut in Suid-Afrika waardeur sy tans haar kursus doen. “Die opleiding wat ek tot dusver gekry het, is van onskatbare waarde en tans gebruik ek reeds van die tegnieke met my pasiënte,” vertel Nemesia.
Maar wat ís kunsterapie en hoe kan dit die depressielyer tot voordeel wees?
Kunsterapie sluit ‘n wye verskeidenheid tegnieke in en is daarop gemik om die persoon te help om emosionele en geestelike probleme te hanteer en te bowe te kom deur skeppend te wees.
Wat dit ekstra lekker maak en ook druk van die pasiënt afneem, is dat daar geen estetiese verwagting gekoppel word aan die eindproduk nie. Alhoewel die eindproduk op ‘n konkrete wyse uiting gee aan die gedagtes en emosies, is die proses as geheel net so belangrik. Die terapeut is bloot daar om die sessies te fasiliteer, leiding te verskaf en die pasiënt te betrek in ‘n bespreking oor die voltooide kunswerk.
Uit navorsing blyk dit dat die kunsterapie se subtiele en sagte benadering kragtig is. Dit beskik oor die vermoë om onderdrukte, en soms onbewuste emosies, te ontsluit en tot die oppervlak van die bewussyn te bring. In die meeste gevalle word onmiddellike resultate tydens die sessie ervaar alhoewel die voordele lank na die sessie reeds geëindig het, nog ervaar word.
Soms ken ‘n pasiënt die besonderhede van die probleem, maar die gedagtes daaroor word oorweldigend en maak dit moeilik om die oplossing te vind – hierdie terapie help om te organiseer en te prioritiseer, sodat daar nie langer in sirkels beweeg word nie, maar ‘n daadwerklike oplossing gevind word.
Soos met baie dinge in die lewe, het bloot die verandering van perspektief ‘n wonderlike effek wat bevorderlik is vir fisiese asook emosionele genesing. Baie van die hedendaagse probleme kan direk gekoppel word aan konstante druk en ander stresfaktore. Hier word die persoon geleer om te ontspan en daarin lê die genesing. Asemhaling word dieper en ritmies, bloeddruk stabiliseer en die liggaam funksioneer beter.
Nemesia se “’Alle mense is kreatief, nie noodwendig kunstig nie, maar omdat jy ‘n brein het, kan jy besluite neem en doelwitte stel. Wanneer jy dit doen, dan kán jy skep, ongeag jou talente!”
Alhoewel die kunsterapieproses ‘n spontane en vryevloeibenadering het, mag sommige mense ervaar dat hul aptyt byvoorbeeld toeneem na so ‘n sessie. Dit dui bloot op die verhoogde metabolisme en is te danke aan ‘n aktiewe brein. Die terapie is nie net voordelig vir emosioneel ontstelde mense nie, maar kan ook vir studente wat leerprobleme ondervind, as hulpmiddel dien omdat dit die brein stimuleer.
Diegene wat trauma ervaar, vind dit besonder nuttig, veral wanneer dit moeilik is om te praat oor die voorval of om te fokus op die gebeurtenis – juis omdat daar tydens ‘n kunsterapiesessie nie verwag word dat die persoon hul gevoelens verbaal hoef uit te druk nie. Die inligting word bloot met die terapeut gedeel sodat die terapeut dit kan organiseer. Daar word glad nie verwag dat die persoon moet praat indien hy nie daarvoor kans sien nie.
“Hulle sê ‘n prentjie sê meer as ‘n duisend woorde, en daar is ongelooflike krag in die kreatiewe proses,” sê Nemesia.
Pablo Picasso sou beslis met haar saamgestem het. Hy het gesê dat kuns die siel skoon was van die stof van die daaglikse lewe.
Indien jy lei aan depressie of meer inligting wil bekom, skakel Nemesia by 079-904-8880. Alle persoonlike inligting is streng vertroulik, en onthou, jy hoef nie ‘n kunstenaar te wees om te kwalifiseer nie.
