Pastoor het hard gewerk in 35 jaar van bediening
Gisteroggend het sy familie hulde gebring aan ‘n eggenoot, pa en oupa wat die rots in hul lewe was; ‘n man wat die afgelope 25 jaar vir hulle en die Nelspruit-gemeenskap ‘n anker was en menige ander in hul donkerste uur bygestaan het
NELSPRUIT – Toe ‘n jong pastoor André Myburgh 36 jaar gelede in die bediening begin het, moes hy twee ander werke doen, waaronder ‘n melkery bestuur, om die pot aan die kook te hou.
Toe hy Nelspruit toe beroep is, was dit nie veel beter nie. Die gemeente het aangedui dat hulle “in skuld gedompel” is en nie werklik ‘n salaris aan hom kon bied nie. Destyds was daar slegs sowat 200 lidmate by die AGS-gemeente maar mettertyd en met liefde het die getal gegroei tot meer as 3 000.
Gisteroggend het sy familie hulde gebring aan ‘n eggenoot, pa en oupa wat die rots in hul lewe was; ‘n man wat die afgelope 25 jaar vir hulle en die Nelspruit-gemeenskap ‘n anker was en menige ander in hul donkerste uur bygestaan het.
Sy skoonseun, Ian Erasmus (sy dogter Leanie se man) het gesê hy sal nooit dié staaltjie wat sy skoonpa graag vetel het, vergeet nie: “In die vroeë jare toe daar maar min geld was, het my skoonpa partykeer saans as hy evangelisasiewerk moes doen, gesien die motor se brandstofnaald is in die rooi. Dan het hy ‘n pleister oor die metertjie geplak en vir die Here gesê dat hy nou in geloof gaan ry en glo dat daar genoeg petrol sal wees om sy werk klaar te maak. Met ‘n groot glimlag het hy dan vertel dat hy by tye nie net in geloof gery het nie, maar dikwels ook in die geloof gestoot het.”
Hierdie filosofie was kenmerkend van hoe past. Myburgh geleef het. Hy het sy lewe en alles wat hy gedoen het, aan die Here opgedra. Sy dogter Leanie sê: “Hy was so trots op ons. Ek was sy droomkind, my boetie Markus en hy het gemeenskaplike liefdes vir die natuur, jag en die wildtuin gedeel, terwyl my kleinsus Lucille, my pa se ewebeeld was en die meeste van sy geaardheid gehad het.” Hy en Lucille het ‘n liefde vir perde gedeel en pastoor Myburgh het in sy jong dae self as perdejokkie in die saal geklim.
Lucille wat twee weke gelede met Jean getroud is, was die laaste Myburgh-kind om af te haak. Hy het saam met Leanie, wat ook in die bediening is, die huweliksbevestiging waargeneem. “My pa was ongelooflik dankbaar oor die pasmaats wat ons gekry het want hy het dikwels vir ons vertel dat hy al vir hierdie drie mense begin bid het toe ons klein was. Hy het alles in die Here se hande gelaat en net in Hom geglo.”
Min mense weet dat pastoor Myburgh hom elke oggend vir ure afgesonder het en sy dag in God se teenwoordigheid begin het. “Hy sou soggens al so sesuur op kantoor wees. Met die lig af en niks wat hom steur nie, het hy sy gesprek met die Here begin en gebid. Die verantwoordelikheid van sy gemeente het swaar op hom gerus. Hy het vir die Here gebid om vir hom die regte boodskap te gee sodat sy kwartaal- en jaartema ook volgens God se wil sou wees. Hy wou nooit valse leiding gee nie,” vertel ‘n bedroefde Leanie.
Sy kleinkinders was hul oupa se hart se punt. “My oudste dogtertjie het oor die naweek vir my gesê haar oupa is nou by Jesus, maar as Jesus in haar hartjie is, weet sy oupa is ook daar.” Leanie vertel haar pa was verskriklik lief vir haar seuntjie en het grappenderwys dikwels gesê, “hy is al een wat sy oupa so lief het.” Past. Myburgh sou binnekort weer oupa geword het by sy seun Markus en sy vrou Leonie.
Past. Myburgh en sy vrou Sarie was 36 jaar getroud. By haar was my pa net homself. In die donker tye die afgelope paar maande, wou hy meestal net by haar wees want sy het hom verstaan en kon hom ondersteun.” Sy vrou was gister nog te getraumatiseerd om met Laevelder te gesels.
Leanie het gister gesê die familie werk nog deur die verlies. “Ek het vir die Here skrif gevra oor hoe ek hierdie trauma moet verwerk. En vanoggend (Dinsdagoggend) het Efesiërs 3:13 na my gekom: “Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word by my verdrukking ter wille van julle nie. Dit is julle eer.” My pa het dit vir ons gedoen, sodat ons kan aangaan.
Huldeblyke het sedert dit tragedie Vrydag ingestroom. Dis veral op die Comunnio Kerk se FB-bladsy en op ander sosiale media platforms wat die omvang en impak van sy dood uitbasuin is.
• Past. Myburgh laat sy vrou, Sarie, dogters Leanie en Lucille en seun Markus; asook skoonseuns Ian Erasmus en Jean Naudé, skoondogter Leonie en kleinkinders Karah, Altus en Mia, agter. Sy pa, mnr. Tienie Myburgh leef nog, asook sy broer Hercules en suster René. ‘n Roudiens word Donderdag om 11:00 vanuit die Communio-kerk deur dr. Isak Burger waargeneem.
Honderde huldeblyke het sedert die nuus oor past. Myburgh se afsterwe bekend gemaak is, ingestroom. Hier is enkeles
