NELSPRUIT – Die selfdood van ‘n bekende pastoor Vrydag het skokgolwe deur die stad gestuur. ‘n Ondersoek na beweerde finansiële ongerymdhede en nepotisme in die Communio-kerk en die gevolglike verwyte van verskeie lidmate was klaarblyklik te veel vir past. André Myburgh (58).
Die dag van sy dood het die Apostoliese Geloofsending (AGS) van Suid-Afrika se hoofkantoor egter in ‘n amptelike brief laat weet dat hy geen oortreding begaan het nie. Hy sou nooit die brief sien nie.
Myburgh het homself Vrydag-oggend in ‘n badkamer in die kerk se kantore gehang. Sy dogter, Leanie Erasmus is ook ‘n pastoor by die kerk en het sowat ‘n uur tevore nog probeer om haar pa, wat duidelik neerslagtig was, moed in te praat. “Hy was in hierdie donker gat. Daar was net te veel wat hy moes hanteer en iewers het sy krag gebreek,” het sy gister hartseer aan Laevelder gesê.
Die ondersoek na beweerde ongerymdhede
Die drama wat uiteindelik past. Myburgh se lewe sou eis, het einde verlede jaar begin. Leanie se man, mnr. Ian Erasmus wat ook by die gemeente werksaam is, het vertel dat die kerk se musiekleier toé bedank het. “Hy het bloot gesê dat die Here vir hom gesê het sy seisoen is verby. Toe hy egter sy bedankingsbrief inhandig, was dit vol aantygings en baie aanvallend.”
Dié voormalige werknemer het toe in Januarie vanjaar ‘n gewigtige e-pos aan die hele gemeente gerig waarin hy die bewerings herhaal het. “Nepotisme was maar die grootste aantyging en hy het ook beweer dat die geldsake wanbestuur is,” het Erasmus bygevoeg.
“Dit het die gemeente baie seergemaak. Ons het nie gedink die lidmate sou dit glo nie, maar baie van hulle het begin wegbly van eredienste af.” Nog drie e-posse aan gemeentelede het gevolg, waaronder een deur ‘n voormalige jeugpastoor.
“My skoonpa het geweldig begin agteruitgaan. Hy het nog gesê: ‘Ek kan nie glo mense kruisig jou só sonder dat hulle die waarheid weet nie’.” Ian het vertel dat past. Myburgh sowat 95 kilogram geweeg het voor die ondersoek van stapel gestuur is. “Toe ons hom Vrydag hier uitdra, het hy net 75 kilogram geweeg.”
AGS-hoofkantoor word betrek
Past. Myburgh het ook self AGS se hoofkantoor versoek om die ongerymdhede te ondersoek. Volgens dr. Isak Burger, president van AGS, het hy twee “ervare ondersoekers” aangestel om die proses te lei.
Ian het vertel dat dit intussen net slegter in die gemeente gegaan het. “Die finansies het met 45 persent gedaal en nie almal kon salarisse kry nie. My skoonpa het, hoewel hy onskuldig was, gevoel dat dit sy verantwoordelikheid was om vir almal te sorg.”
Burger het dit beaam. “Die skade aan die gemeente was groot. Die inkomste het drasties geval en nie almal se salarisse
kon betaal word nie.” Die brief waarin past. Myburgh vrygespreek is, lui egter:
“Dit is om te getuig dat ons alle aantygings en bewerings teen past. Myburgh ondersoek het en geen oortreding van die Konstitusie van die AGS van SA of die gedragskode van pastore kon vind nie.
“Die AGS van SA het duidelike prosesse waarvolgens griewe hanteer moet word, derhalwe betreur ons die wyse waarop persoonlike belewenisse in die openbare domein geplaas is. Hiermee wens die ondersoekspan ook ons waardering uit te spreek vir die samewerking wat ons van alle partye ontvang het. ‘n Volledige verslag waarin alle aantygings en bevindinge asook moontlike aanbevelings vervat is, sal met die gemeenteraad in detail bespreek word.”
Dit is Vrydag aan mnr. Dirk Matthee, Communio-kerk se boekhouer, gestuur. Past. Myburgh is dood voordat Matthee dit aan hom kon wys.
‘n Gemeenskapsleier knak onder die druk
Leanie het gesê dat haar pa baie trots op sy integriteit was. “Ons almal se integriteit is in twyfel getrek en hy wou ons net beskerm.” Volgens Burger sou hulle Saterdag met Myburgh ontmoet om die uitkoms van die ondersoek te bespreek. Leanie het bygevoeg dat AGS se hoofkantoor, in die aanloop tot Vrydag, wel laat weet het dat “dinge in sy guns tel en dat die verslag goed lyk”.
Dit was egter duidelik dat past. Myburgh se moed gebreek was. “Ek het Vrydagoggend nog vir hom gesê: ‘Dad, ons het jou nodig. Jy het nog ‘n kleinkind op pad en hier is nog baie lidmate wat lief is vir die Here met wie ons ‘n pad kan stap’. Ek het vir hom gesê dat hy vir ons belangriker is as enige iets anders en dat ons altyd iets anders kan doen as die bediening as dit moes,” het Leanie gesê. “Hy het gesê hy was moeg.”
Past. Myburgh moes al self vriende en gemeentelede wat hulle eie lewens wou neem, moed inpraat en oortuig om dit nie te doen nie. Leanie het vertel dat haar pa hierdie laaste ruk baie empatie vir mense met depressie ontwikkel het.
“Jy gee jou hele lewe vir jou bediening. Al die gemeentelede kom na jou toe met hulle probleme. Hy kon nie net ‘mens’ wees tussen ander nie, behalwe by my ma,” het Leanie verduidelik.
Sy vrou van 36 jaar, Sarie, was by die huis besig om middagete te maak en het bekommerd geraak toe past. Myburgh teen 12:00 nog nie terug was nie. “Hy het altyd vir haar by die huis gewag. Sy het sy selfoon geskakel, maar daar was nie antwoord nie. Sy het toe na die kerkkantoor gebel en daar is vir haar gesê dat sy voertuig nog op die perseel is, maar dat hy nie in sy kantoor was nie. Sy het gevra dat hulle na hom soek.
Twee vroue wat ook in die kerkkantoor werksaam is, het toe op sy liggaam in die badkamer afgekom. Matthee het Ian laat weet. Paramedici van Hi-Tech Medical Services het hulle na die toneel gehaas, maar moes past. Myburgh ongelukkig dood verklaar. Nuus van sy dood het vinnig versprei en geskokte lidmate het hulle na die kerk gehaas. Sarie het ook op die toneel aangekom. Sy het droewiglik buitekant gehuil dat dit daar skuld was en is deur omstanders omhels. “Sy het gevoel dat sy hom nooit alleen moes gelos het nie,” het Ian verduidelik.
‘n Gemeente in rou
Daar is Sondag ‘n sogenaamde stildiens tot nagedagtenis van past. Myburgh gehou. Die kerk was donker, behalwe vir ‘n paar kerse wat voor gebrand het. Lidmate het van 08:30 by die kerk aangekom en in stilte gesit. Baie van hulle het gehuil en mekaar getroos. Matthee het later opgestaan en gesê: “Daar sal geen prediking wees nie. Ons weet daar is baie vrae en ons sal ons bes doen om julle op hoogte te hou. Moenie julle ore uitleen nie. Staan saam in Jesus en verenig as gemeente.”
Die kerkgebou was oop tot 12:00 en lidmate het blomme neergelê en boodskappe van huldeblyke op ‘n doek wat in die voorportaal gehang is, geskryf.
Burger sal ook hierdie Sondag die erediens lei.
• Past. Myburgh se dogter, Leanie en skoonseun Ian het met baie deernis van hom gepraat toe hulle teruggedink het oor sy lewe as leraar en gesinsman. Lees meer hier
