Hard newsNewsNewsUpdate

Pastoor André Myburgh tydens hartroerende diens gegroet

Hy het die kerkgangers probeer troos deur te sê dat, selfs nie Myburgh se tragiese dood by magte is om hom (of enige ander gelowige) uit die hand van die Here te ruk nie

NELSPRUIT – Duisende mense het past. André Myburgh se roudiens gister (Donderdag) by die Communio-kerk bygewoon, byna ‘n week nadat hy homself hier om die lewe gebring het.

Dit was ‘n gespook om parkering te kry soos die massas al van vroeg af begin opdaag het. Van die wat die diens bygewoon het, is self oud-lidmate wat hulle heil by ander kerke gaan soek het toe Myburgh (58) aan die begin van die jaar van ongerymdhede soos nepotisme en finansiële wanbestuur beskuldig is.

‘n Oudersoek deur die Apostoliese Geloofsending (AGS) van Suid-Afrika se hoofkantoor sou volg en hoewel hy onskuldig bevind is, was die spanning wat die proses meegebring het asook die verwyte deur lidmate, klaarblyklik net te veel vir hom.

Die roudiens
Die diens is deur dr. Isak Burger, president van die AGS van SA, waargeneem. “Ek kan nie aan iets meer pynlik of traumaties as dit dink nie. Ek staan vandag hier in groot afhanklikheid van die Here,” het hy begin. “Hierdie is ‘n baie moeilike byeenkoms en woorde kan skaars reg daaraan laat geskied.”

Myburgh se dood met ‘n storm vergelyk
Burger het uit Markus 4:35 voorgelees – die verhaal van Jesus wat met sy dissipels in ‘n skuitjie oor die see gevaar het.
‘n Erge storm het begin woed, maar Jesus het gelê en slaap. Sy dissipels het hom wakker gemaak en onder andere gevra: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”

Jesus het opgestaan, die wind bestraf en ‘n groot kalmte het oor die see gedaal. Burger het verduidelik dat die Bybel dikwels ‘n geestelike konnotasie aan storms heg. Hy het gesê dat ‘n storm in Myburgh se familie, die Communio-kerk en in die breër gemeenskap teweeg gebring is. “Die tragedie wat homself Vrydag afgespeel het is ‘n storm en daar is baie bespiegelings en menings ná daardie dag. Daar is selfs verwyte teen God gemik en daar word gevra: ‘Waar was U?'”

Burger probeer ‘n einde bring aan gerugte
Burger het almal in “groot liefde en verantwoordelikheid versoek” om te besin en versigtig te wees oor wat hulle sê. “Wat gebeur het, is só kompleks. Almal wonder wat die laaste strooi was wat die kameel se rug gebreek het. Wees versigtig wat jy antwoord.”

Hy het ook genoem dat daar waarskynlik baie mense is wat hulself vandag verwyt. “Ek ook. Moes ons nie die ondersoek ‘n week vroeër voltooi het nie? Die kans is goed dat niks wat enigiemand sou sê of doen, dit sou kon verhoed nie.”

Geestelike leiers is nie van depressie gevrywaar nie
Burger het aangegaan deur te sê dat die Here ons wil vrymaak en wil hê ons lewe en Sy werk moet voortgaan. “This tragic incident reminds me of the unbearable pressure that rests on those working for God.” Hy het verduidelik dat, hoewel hy nie sê dat leraars meer druk as ander ervaar nie, dat ons almal (volgens Efesiërs 6:12) nie ‘n stryd teen vlees en bloed voer nie, maar teen Satan. Hy het bygevoeg dat ons veral die mentaliteit handhaaf dat “dié soort ding nie met ons mag gebeur nie. ‘n Geestelike leier mag nie met depressie worstel nie”. Burger het genoem dat daar regoor die wêreld, elke 40 sekondes iemand sy eie lewe neem – meer as ‘n miljoen elke jaar.

Hy het die kerkgangers probeer troos deur te sê dat, selfs nie Myburgh se tragiese dood by magte is om hom (of enige ander gelowige) uit die hand van die Here te ruk nie. “Niks, nie eens die dood, kan ons van Sy liefde skei nie.”

Burger maan teen selfdood
Hy het beklemtoon dat selfdood egter nie ‘n regverdiging, ‘n oplossing, of “reg” is nie. Hy het verwys na figure in die Bybel – Dawid, Job en Elia – wat self met depressie geworstel het. “Jy kan nie ‘n broser punt bereik as wanneer jou sterwensdrang sterker as jou lewensdrang is nie. “Ons God is ‘n genadige God. Hy het die swakheid van sy kind (Myburgh) verstaan.”

Hy het ook diegene, wat van mening is dat Myburgh “verlore” is omdat hy sy eie lewe geneem het, aangespreek: “‘n Mens gaan nie hemel toe omdat jy nié gesondig het nie, jy gaan omdat jy ja gesê het vir Jesus en Sy kruisdood.” Dit is deur luide applous en toejuiging begroet. “Wie weet wat in daardie laaste oomblikke tussen André en sy Maker gebeur het?” Hy het afgesluit deur te sê: “As jou skuitjie ook in stormwaters vaar, moet asseblief nie oorboord spring nie. Solank Jesus saam met jou is, sal jy dit maak. “Satan het dalk hierdie ronde gewen, maar hy het nie die geveg gewen nie.”

‘n Woord vanaf die kerk se bestuur
Mnr. Kobus Rudolph het gesê dat die raad “100 per sent in sy onskuld geglo het”. Hy het gesê dat Myburgh se styl van prediking iets was om aan gewoond te raak. “Selfs dié wat gesê het, ‘ek laat nie op my skree nie’, het teruggekom en lid van die gemeente geword.”

Hy het bygevoeg dat Myburgh nie onthou sal word vir die manier waarop hy gesterf het nie, maar vir die manier waarop hy geleef het.

‘n Huldeblyk deur sy broer, mnr. Hercules Myburgh
Hy het onthou hoe Myburgh, na twee jaar se regstudies, eerder die bediening wou betree. Hy het later huilend opgemerk dat Myburgh die derde broer is wat hy begrawe. Hy het vertel dat hy baie met Myburgh gepraat het in die laaste paar maande en dat hy (André) gesê het “dis die naaste wat ek nog ooit aan God was”.
“Kom ons leef André voort”, het hy afgesluit.

‘n Huldeblyk deur sy dogter, past. Leanie Erasmus
Erasmus het op ‘n stuk op Myburgh se tablet afgekom wat sy voorgelees het. Sy weet nie wanneer hy dit geskryf het nie, maar dit was getiteld: “die ideale ek”.

“Ek sien myself as sterk, kalm, met ‘n stille vertroue in die Here. Ek wil nie angstig raak nie en wil ‘n duidelike verhouding met God hê. Ek wil soos Jesus wees en geregtigheid leef. Hy moet my voetstappe rig. Sy agenda is my doel. Ek wil myself aanvaar en bemagtig en myself op elke vlak ontwikkel. Ek wil in voeling wees met my gevoelens. Ek wil leef vanuit my identiteit in Christus. Ek gaan myself voortdurend intellektueel ontwikkel. Ek wil fiks en gesond wees. Ek sien my liggaam as ‘n tempel van God en wil dit ook só versorg. Ek sien myself in die gym – vier tot vyf keer ‘n week – en nie oorgewig nie.

“Ek sien myself as iemand wat met eer en waardigheid doodgaan. My vrou hoef niks te doen om my liefde te verdien nie. Ek wil die beste uit haar bring op elke gebied. Ek sien myself as ‘n great pa en oupa. ‘n Voorbeeld vir hulle op elke vlak. As ek foute maak, sal hulle sien hoe ek dit hanteer.”

Erasmus het gesê haar pa was presies dit. “Die ideale jy. Die beste man en pa.”

Burger sal ook Sondag se erediens waarneem.

• Lees Irma Green se redaksionele kommentaar oor Myburgh se afsterwe, asook dié van Nicolene Smalman

Vir die berig in Engels, klik hier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button