
BARBERTON – Dit was so naelskraap of ‘n Amerikaanse veghond het Riaan Prinsloo van Hi-Tech Sondag doodgebyt.
Prinsloo het omstreeks 09:00 vir Peet Huygen van Krugerstraat se diere gaan kos gee. Die Huygens is kliënte van Hi-Tech, en as deel van hul dienslewering, is dit iets wat die span doen wanneer huiseienaars uitstedig is. Die honde het Prinsloo reeds geken.
“Ek het ingegaan en die ander diertjies aan die voorkant van die erf versorg en is daarna deur die hek na agter waar die honde was,” sê Prinsloo.
Hy vertel dat hy die honde gevryf het toe hy deur die hek was. Hy het opgemerk dat die twee veghonde besig was om die ander kleintjie te karnuffel.
“Ek het vir hulle geskree om te stop, en dis toe dat die reun op my afstorm. Hy het reguit vir my keel gespring en probeer om my af te trek grond toe. Gelukkig het ek met my regterarm gekeer.” Die hond het hom vir ‘n hele halfuur bly aanval. Prinsloo sê al wat deur sy kop gegaan het is dat hy gaan sterf as hy nie terugbaklei nie. Ongelukkig het hy ook nie sy vuurwapen by hom gehad nie en daar was niks wat hy kon doen om die hond te keer nie. Ek het gedink ek moet net sorg dat hy my nie plattrek nie. Die teef het gelukkig nie tot die geveg toegetree nie.”
Hy het die paniekknoppie van die alarm, wat nog in sy hand was, herhaaldelik gedruk om hulp te ontbied.
Op ‘n stadium het die hond sy hemp van sy lyf afgeskeur, en Prinsloo, bebloed en duiselig, het sy kans waargeneem.
Terwyl die dier besig was met die hemp, het hy deur die hek gekruip en aan die ander kant inmekaargesak.
“Ek onthou ek het die mense in die aangrensende woonstel hoor skree en my mede-offisiere het opgedaag en my na die bure se woonstel gedra.”
Vandaar is hy per ambulans na Mediclinic vervoer. Barberton Times het Maandagaand by hom gaan inloer. Sy arms, bene en rug is vol bytmerke. Op sy regtersy is ‘n lelike wond wat as gevolg van die bloeding so groot soos ‘n tennisbal opgeswel is.
Die veghonde het later die kleiner een doodgebyt en die DBV het hulle uitgesit.
“Sou ek my vuurwapen daar gehad het, het ek hom geskiet. Ek wil mense waarsku, veral dié met kinders, om veghonde van hulle af weg te hou aangesien hierdie diere baie temperamenteel is.”
Volgens Amerikaanse statistieke het hierdie ras met vier persent gegroei en vanaf 2005 tot 2012, was hierdie diere verantwoordelik vir die dood van gemiddeld 19 mense per jaar. Daar word geskat dat indien hierdie groei-tendens voortgaan,
33 Amerikaners per jaar hul lewens in aanvalle gaan verloor. Prinsloo word steeds in Mediclinic Barberton behandel.

