
BADFONTEIN – Motoriste kan ‘n sug van verligting slaak nadat noodherstelwerk op die R36, beter bekend as die Bambi-pad, eindelik hervat is.
Dit volg na die herstelwerk die afgelope drie weke gestaak is toe die subkontrakteurs vermoedelik nie betaal is nie. Steelburger/Lydenburg Nuus het vertroulik hiervan verneem en bevestig dat die kontrak wel tydelik gestaak is om dié kwessie te ondersoek.
Volgens mnr. Hendrikus Swart, in ‘n raadgewende hoedanigheid, het me. Stella Mashego, aan wie die kontrak toegeken is, ‘n dringende aansoek om betaling by die Departement van Openbare Werke:
Paaie en Vervoer ingedien en die subkontrakteur, mnr. Johan Roos het bevestig dat die noodherstelwerk egter Maandag hervat is. “Ons het geld ontvang om die laaste ses kilometer te herstel en ons vermoed dat ons Vrydag daarmee klaar sal wees.”
Gerugte het egter ontstaan dat Mashego wel die geld van die provinsie ontvang het, maar dat sy nooit die subkontrakteurs betaal het nie. Roos wou nie oor die saak uitwy nie, maar het wel ontken dat die volle bedrag van die kontrakteur ontvang is.
“Ek kan nie sê ons het reeds al die geld gekry nie, maar ons het wel betaling ontvang om die laaste paar kilometer te voltooi.” Mashego het die oponthoud aan ‘n tekort aan materiaal toegeskryf en gesê dat hul vir drie weke daarvoor moes wag.
Sy het verder bevestig dat sy wel die geld van die provinsie ontvang het, maar wou nie die bedrag bevestig nie. Volgens Mashego strek die projek tot einde Mei 2015, en sal die finale eis afgehandel word sodra die projek voltooi is.
Mashego is die direkteur van Ntsangalala Business Enterprise, ‘n siviele konstruksiemaatskappy wat onder andere spesialiseer in die instandhouding van paaie.
Sy het al verskeie kontrakte gekry by die Departement van Openbare Werke wat miljoene beloop waarvan laasgenoemde, ‘n soortgelyke projek soos die Bambi-pad, R34 526 803 beloop het.
