MIDRAND – Die room van die Afrikaanse mediawêreld is Vrydagaand by Vodacom World met ATKV-Mediaveertjies bekroon, en Laevelder was bevoorreg om met een van dié toekennings weg te stap.
Die ATKV vereer diegene wat deur die loop van ‘n gegewe jaar ‘n uitnemende bydrae in Afrikaans gelewer het, en dié koerant het stof in die oë van verskeie ander gemeenskapspublikasies geskop deur die Mediaveertjie voor hul neuse weg te raap.
Laevelder se betrokkenheid by verskeie projekte, onder andere as ‘n mediaborg van Innibos Nasionale Kunstefees, bied ruim geleentheid om ons taal op verskeie vlakke te bevorder.
Groepredakteur, Irma Green sê: “Dit is ‘n ongelooflike voorreg om die toekenning te ontvang. Omdat ons koerant in beide Afrikaans en Engels gepubliseer word, moet ons soms bontstaan om al ons lesers tevrede te stel. Hulle moet weet dat ons nooit ons taal sal afskeep nie en dat hierdie lesersmark vir ons van groot belang is.”
Gaste is op ‘n luisterryke wyse deur Karin Hougaard, The Soil en Hemelbesem vermaak, en die gasheer van die aand was Elma Smit en Katlego Moboe.
Wouter de Wet, bekend vir sy RSG-program, Dis Opera, is vir sy lewensbydrae op radio vereer. Hy vier 50 jaar agter die mikrofoon. Nog bekendes wat met Mediaveertjies bekroon is, was Martelize Brink vir haar program Oggend op RSG, Lynette Francis vir Praat Saam op RSG, Murray La Vita, Bibi Slippers en Ronel Nel wat vir Rooi Rose skryf.
Die TV-reeks Donkerland is met vier veertjies as beste dramareeks, beste regisseur, beste draaiboek en beste aktrise wat aan Franci Swanepoel gegaan het, bekroon.
Coenie de Villiers van Kwêla is as beste aanbieder van ‘n gesels- of joernaalprogram aangewys en Freek Robinson as beste aanbieder van ‘n nuusprogram.
Kokkedoor is ook as beste Afrikaanse werklikheidsreeks vereer. Die besturende direkteur van ATKV, Japie Gouws het gesê dit bereik jaarliks duisende mense met onderskeie projekte soos die ATKV/Rapport-korekompetisie en ATKV-leierskapontwikkeling en -leesprojekte.
Sien ‘n uittreksel oor die toekennings hier, geneem uit die oggendprogram Expresso, en insluitende ‘n onderhoud met Laeveld Media se groepsredakteur, Irma Green:
