Hard newsNewsNews

AfriForum oorweeg appél teen naamsverandering

Die burgerregtelike organisasie, AfriForum het aangedui dat dit oorweeg om teen die hofuitspraak oor Nelspruit se naamsverandering te appelleer.

MBOMBELA – Die burgerregtelike organisasie, AfriForum het aangedui dat dit sal oorweeg om teen die hofuitspraak oor Nelspruit se naamsverandering te appelleer. Dit kom nadat die Pretoria Hooggeregshof verlede week die aansoek om die naamsverandering ter syde te stel, afgekeur het met koste.

Die Kruger Lowveld Chamber of Business and Tourism (KLCBT) het in 2012 die saak hof toe gevat nadat die stad se naamsverandering in 2010 in die Staatskoerant gepubliseer is. Hangende die uitspraak was beide die name Nelspruit en Mbombela in gebruik, maar dit het Donderdag met die regter se uitspraak verander. Nelspruit heet nou amptelik Mbombela.

Mnr. Ruan Lottering van AfriForum het gesê hulle is besig om die uitspraak te besturdeer om te bepaal of ‘n appél meriete het. “Ons prokureurs kyk daarna. Ek dink ons het moontlik ‘n saak. Die regter het nie op die meriete van die saak uitspraak gelewer nie. Sy het slegs teen die tersydestelling van die naamsverandering besluit op grond van die lang tyd wat dit geneem het om hof toe te gaan.”

Hy het aangedui dat hulle teen volgende week ‘n besluit sal neem.

Me. Linda Grimbeek van die KLCBT het verduidelik dat hulle teleurgesteld is en nie noodwendig met die uitspraak saamgestem het nie, maar dit sou respekteer.

Oor of hulle gaan appelleer, het sy gesê: “Ons wag vir ons regsspan om vir ons die opsies neer te lê, sowel as die verwagte uitkomste en natuurlik die risiko’s. Daarna sal ons elkeen ernstig oorweeg.”

Aan die ander kant is die hof se besluit deur die provinsiale Departement van Kultuur, Sport en Onstpanning verwelkom. LUR me. Sibongile Manana het gesê dat hoewel die kwessie van naamsveranderinge ‘n emosionele een bly, is dit ‘n noodsaaklike proses.

“Wanneer ons name verander, probeer ons nie die geskiedenis van ander nasies uitvee nie. Ons poog om die geskiedenis reg te stel, te herstel en te bewaar. Ons doen dit vir toekomstige generasies.”

Grimbeek het gesê die direkte finansiële implikasies vir besighede in die dorp is die verandering van bemarkings-materiaal, webtuistes, en dies meer.

“Die indirekte gevolge het te doen met die astronomiese bedrag wat dit die munisipaliteit gaan kos om die titelaktes, geregistreerde huislenings en algemene straatplanne te verander. Mbombela sal dit werklik nie kan bekostig nie en dit sal moontlik ‘n verhoging in erfbelastings teweeg bring. Dit sal ‘n groot implikasie vir besighede hê.”

Mnr. Joseph Ngala, woordvoerder vir die munisipaliteit, het teen druktyd nog nie op navrae reageer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button