Hard newsNewsNews

Bekende dood nà skietvoorval

Die dorp is nog in skok na die dood van welbekende inwoner, mnr. Nols Minnie, in 'n tragiese skietvoorval.

KOMATIPOORT – Die dorp is nog in skok na die dood van welbekende inwoner, mnr. Nols Minnie, in ‘n tragiese skietvoorval.

Volgens ‘n persverklaring deur kapt. Sarie van der Walt het die plaaslike polisietak rondom 18:20 Sondag, ‘n oproep in verband met ‘n skietvoorval by Paquina Villas in Gilfillanstraat ontvang.

Konst. Sibusiso Sitibe het die klagte ondersoek. Met sy aankoms het hy ‘n man buite sy huis sien lê. Die slagoffer, Minnie, het ‘n skietwond aan die linkerkant van sy kop gehad. ‘n Wit Honda Ballade was naby aan hom in die erf geparkeer en ‘n vuurwapen is onder die voertuig gevind.

Me. Muriel Minnie, beter bekand as Mickey, sy eggenoot van 12 jaar, het gesê dat sy en haar negejarige seun aan die agterkant van die huis was toe sy ‘n skoot gehoor het. Sy was bang en het nie geweet wat aangaan nie, maar het na ‘n rukkie na die voorkant van die huis beweeg. Sy het haar man langs die hek sien lê, met ‘n bloeiende wond aan sy kop.

‘n Ambulans van LifeMed is ontbied en was vinnig op die toneel, maar Minnie was reeds oorlede. Dr. Theo Stronkhorst het saam met die ambulans gearriveer. Hy was elders heen op pad en het besef hy het met ‘n noodsituasie te doen toe hy die ambulans en voertuie opmerk.

Volgens Mickey het Stronkhorst haar en haar seun goed hanteer en hulle probeer kalmeer. Die Da Silva van Niekerk-familie wat oorkant die straat woon, het tydens die polisie se ondersoek – wat tot bykans 00:00 geduur – na haar en haar kind omgesien. Toe eers kon die oorledene se liggaam weggeneem word.

Mickey het later ‘n brief van haar man in ‘n boek op die tafel gevind. Dit is in sy eie handskrif geskryf. Die egpaar het altyd vir mekaar in die betrokke boek briefies gelos. Hy het seker gemaak dat sy dit sou vind.

Sy is erg getraumatiseerd, maar orweldig deur die welwillendheid en ondersteuning van die gemeenskap. Hulle het hul harte ruim oopgemaak vir haar en haar seun. Soveel mense het haar geskakel en hulp aangebied. Selfs persone wat aan haar heeltemal onbekend is, het uitgereik na hulle, SMSe van bemoediging gestuur of haar geskakel. Sy wil graag elke persoon bedank wat in hierdie moeilike tyd aan hulp, bystand en ondersteuning verleen het.

‘n Geregtelike doodsondersoek word tans op Komatipoort gedoen. Die wapen is in beslag geneem en is aan die Forensiese Wetenskap Laboratorium in Pretoria vir ballistiese toetse gestuur.

Minnie was vir 25 jaar werksaam by Transnet as ‘n treindrywer. Die begrafnis sal op 17 Mei om 10:00 vanuit die AGS Gateway Gemeenskapskerk in Komatipoort plaasvind. Die kerk is op die hoek van Rissik- en Gilfillanstraat. Die diens sal deur past. Danie du Preez gelei word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button