MBOMBELA – Die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) gaan steeds onder renosterstropery gebuk en olifante word nou ook geteiken soos die vraag na ivoor toeneem.
Veldwagters en ander rolspelers het al die hulp nodig wat hulle kan kry in die felle oorlog teen stropers, maar ‘n Gazelle-helikopter wat reeds in November verlede jaar geskenk is met die doel om Phalaborwa en ander dele in die noorde van die wildtuin te patrolleer, staan steeds in onbruik.
Dit bloot omdat die Departement van Verdediging sloer om ‘n sertifikaat uit te reik sodat dit op die Burgerlugvaartowerheid (BLO) se vliegtuigregister geplaas kan word.
Dié militêre helikopter is destyds tydens ‘n spoggerige geleentheid deur die Ichikowitz-stigting aan SANParke oorhandig en aan die media bekendgestel. Dit het voorheen aan die Britse Weermag behoort en is van alle militêre onderdele gestroop voor dit na Suid-Afrika gebring is.
Die departement moet nou ‘n sertifikaat uitreik dat die helikopter geen militêre wapens of ander dele op het nie voordat die BLO dit op sy register kan plaas. Mnr. Kabelo Ledwaba, ‘n woordvoerder van die owerheid, het by navraag verduidelik dat die Gazelle, soos enige ander militêre vliegtuig, geïnspekteer moet word. Dit volgens die die Wet op Nasionale Beheer oor Kon-vensionele Krygstuig (41 van 2002), en moet plaasvind voordat dit as ‘n burgerlike tuig geregistreer kan word óf op die BLO se vliegtuig-register geplaas kan word.
“Ons kan nie op die wette en prosesse wat in ander lande gevolg word, staatmaak nie, aangesien dit dalk van ons s’n verskil. Die inspeksie moet deur ‘n Suid-Afrikaanse liggaam gedoen word. In hierdie geval is dit die Direktoraat vir Beheer oor Konvensionele Wapens,” het hy gesê. Dié direktoraat resorteer onder die departement.
Ledwaba het benadruk dat die BLO slegs die Gazelle op die register sal plaas sodra die direktoraat dit geïnspekteer en ‘n verslag uitgereik het, wat aandui dat dit gedemilitariseer is en vir burgerlike doeleindes aangewend kan word.
Met ‘n topspoed van tot 310 kilometer per uur, kan die Gazelle uiters waardevol wees in die stryd teen stropers en kom veldwagters se reaksietyd aansienlik versnel.
Mnr. Isaac Phaahla, ‘n woordvoerder van SANParke, het bygevoeg dat die sertifisering in ‘n gevorderde stadium is en binne ‘n maand afgehandel behoort te wees. Sewe vliegtuie en helikopters word tans in die wildtuin gebruik. Die sogenaamde Seeker gaan ook eersdaags met ‘n Husky vervang word.
Die departement het teen druktyd nie op navrae gereageer nie.
