
SKUKUZA – ‘n Toerisme bestuurder in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) het Woensdag op twee klagtes van seksuele aanranding in die plaaslike landdroshof verskyn, na ‘n beweerde voorval by die dorp se gholfklub verlede week.
Die man (42) mag nie geïdentifiseer word voordat hy nie op die klagtes teen hom gepleit het nie, aangesien dit seksueel van aard is. Hoewel Laevelder ingelig is dat hy na bewering al voorheen departementeel aan klagtes van ‘n soortgelyke aard skuldig bevind is, kon SANParke woordvoerders dit nie bevestig nie.
Die Joke of the Bushveld-gholftoernooi is verlede Dinsdag tot Saterdag by Skukuza-gholfklub aangebied. Ao. Oubaas Coetzer, woordvoerder van die plaaslike polisie, het by navraag gesê dat die klagtes teen die man uit ‘n beweerde voorval Woensdag om 22:00 by die klub spruit.
“Twee vroue, onderskeidelik 38 en 21 jaar oud, beweer dat hy hulle betas het terwyl hy onder die invloed van drank was,” het Coetzer gesê. Hy is Dinsdag gearresteer en is die volgende dag op borg van R1 000 vrygelaat.
Mnr. William Mabasa, ‘n woordvoerder vir die wildtuin, het by navraag gesê dat hulle die voorval intern sal ondersoek en op grond van hulle bevindings sal optree. Die verdagte moet weer op 21 Junie in die hof veskyn.
Die saak sal dan waarskynlik in die streekshof in Witrivier of Nelspruit verhoor word.
