OHRIGSTAD – Drie gewapende mans het net voor toemaaktyd op Saterdag, 24 Mei die kafee by die Caltex Garage binnegestorm.
Volgens ‘n bron het die rowers met ‘n onbekende hoeveelheid kontant van die drank-afdeling in die kafee ontvlug. Die bron vertel ook dat iemand ‘n polisieman wat in die omgewing was, oor die insident ingelig het. “Dit is blykbaar toe die skietery begin het.”
Volgens kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het die booswigte die werknemers van die onderneming met vuurwapens aangehou. Die skelms het klaarblyklik geskrik en in ‘n silwer KIA gevlug.
“Die bestuurder het vir die ander twee weggery en hulle het die bosse in gevlug,” vertel die bron.
Steelburger/Lydenburg Nuus het ‘n werknemer van die besigheid probeer kontak vir kommentaar. Die selfoon het net gelui en niemand het terug gebel voor die koerant se spertyd nie.
Volgens Otto se inligting is geen arrestasies teen Dinsdag gemaak nie. Die polisie ondersoek ‘n saak van gewapende roof.
Me. Jessica Potgieter, ‘n inwoner van die omgewing en werknemer by Born to Protect Sekuriteit sê dat die mense van die dorp oor die voorval geskok is. “Die afgelope agt jaar wat ek hier bly het ek nooit gedink so iets sal hier gebeur nie. Dit maak mens bang dat ‘n klein dorpie soos hierdie ook onder misdaad moet deurloop. Ek hoop die polisie vang die kriminele gou. Dit sal almal veiliger laat voel.”
Patroonmerke is steeds in die onderneming se vensters sigbaar.
