
MBOMBELA – ‘n Verdagte vragmotor is afgetrek nadat mnr. Jacques Meiring van Bossie’s Community Justice (BCJ) ‘n wenk van ‘n informant ontvang het en dadelik die Witrivier-blitspatrollie in kennis gestel het. Die vragmotor was op die N4 na Pretoria onderweg toe die informant iets verdag opgemerk het. Die vragmotorbestuurder het volgens sy eie bekentenis die koper vroeg daardie oggend by BBS Scrap Metal gaan oplaai.
Die eienaar, mnr. Martin Fourie, was nie op die toneel nie. Volgens ‘n vriend van Fourie, wat verkies om anoniem te bly, word hy nie aangekla nie en is die vragmotorbestuurder reeds op borg uit. “Ons wil nie nou enige kommentaar lewer nie omdat die saak nog ondersoek word,” het die vriend gesê. Volgens hom was Fourie nie bewus van die gesteelde goedere nie en meen hy dat die bestuurder dit op ‘n ander plek kon oplaai.
Sers. Gerald Sedibe, polisie- woordvoerder, het by navraag bevestig dat die bestuurder van die vragmotor en BBS se bestuurder aangekla word. Albei het Vrydag in die hof verskyn. Die vragmotorbestuurder is op waarskuwing vrygelaat en die bestuurder van BBS is uit op R2 000 borg. Die saak is tot 23 Junie vir verdere ondersoek uitgestel.
Lees die oorspronklike verslag hier.
