
Padwoede het in die verlede al vir baie bakleiery gesorg en in uiterste gevalle het dit selfs al mense se lewens gekos.
Saterdagaand, terwyl die 50-jarige Reg Mendoza van Barberton vanaf sy huis op pad dorp toe was, het hy self ervaar tot watter uiterstes padwoede kan lei.
Hy vertel dat hy omstreeks 19:45 die vierrigting-stopstraat by die rugbyklub gekruis het toe hy bewus geword het dat ‘n voertuig in die aankomende baan nie sy hoofligte gedomp het nie.
“Ek het herhaaldelik probeer om die ander bestuurder daarvan bewus te maak deur my Mazda 3 se ligte om die beurt te domp en te verhelder. Die ligte het my heeltemal verblind en tipies mens, het ek my ook bloedig vererg,” vertel hy.
Oomblikke voor die voertuie mekaar sou verbysteek, het Mendoza sy hoofligte ook aangeskakel en net daar het die gemors begin.
Met die terugkyk in sy truspieëltjie het hy gesien hoe die silwer dubbelkajuitbakkie ‘n U-draai maak en hom agterna sit. Hy het toe maar voet in die hoek gesit om weg te kom.
“Dit was uiters dom,” het hy Maandag erken toe hy deur Barberton Times gevra is of hy nie dink sy optrede onvolwasse en uiters gevaarlik was nie.
“Ek het nie gedink nie. Ek was omgekrap want die man se hoofligte het my heeltemal verblind. Jy weet mos, ons almal doen dit maar van tyd tot tyd,” het hy bygelas.
Die bestuurder van die bakkie het hom in Paul Daviestraat naby die hoërskool vasgetrek.
Volgens Mendoza was daar ongeveer drie ander passasiers in die voertuig. Hy vertel dat almal uitgeklim het en daar rondgestaan het. Voor hy kon beweeg, was die bestuurder van die bakkie by hom. Die man het donker hare en ‘n snor gehad en Mendoza skat hom so tussen 35en 42 jaar oud. Die vuishoue het skielik op hom begin neer reën, sommer so deur die oop venster van sy voertuig.
“Hy het my gevloek en geskel en iets omtrent die ligte geskree. Die hele aanval het ongeveer ‘n minuut geduur,” vertel hy.
Die man en sy passasiers het daarna in die bakkie gespring en hulself uit die voete gemaak. Die bebloede Mendoza is na Barberton Provinsiale Hospitaal waar hy ses steke in sy linkeroogbank ontvang het.
“Dit was ‘n baie dom ding wat ek gedoen het om iemand in eie munt terug te betaal, maar dit is geweldig frustrerend wanneer mens geneig is tot nagblindheid. Ek wil die mense in die dorp net waarsku dat hierdie tipe mense, wat so aggressief is dat hulle nie sal skroom om handgemeen te raak nie, in ons dorp bly. Kners dus maar op jou tande, en indien jy sien daar kom probleme, ry reguit polisiestasie toe,”
“Die dorp is klein en mense praat en ek sal hom herken wanneer ek hom sien. Ek gaan hierdie ding wetlik hanteer,” sê Mendoza.
Hy het Maandag ‘n saak van aanranding by die SAPD gaan lê.

