CrimeLocal newsNewsNews

Vermeende dief met duikslag platgetrek

"Die polisie het op my gil gereageer en met pistole uitgehardloop”

LYDENBURG – ‘n Vermeende dief het onlangs sy rieme vasgeloop toe ‘n omstander hom plat geduik het nadat hy uit aanhouding probeer ontsnap het. Volgens bronne is die man in Mashishing deur die polisie vasgetrek en in die kattebak geboender waarna hy na die plaaslike polisiestasie vervoer is – sonder boeie. Die man het egter sy kans gevat en laat spaander die oomblik toe die kattebak oopgemaak is.

Steelburger/Lydenburg Nuus was op die toneel om met die platvatter, mnr. Cornel du Plessis en die Nasionale Federale Raadslid van die Mpumalanga Vryheidsfront Plus, mnr. Frik Rousseau te gesels. Du Plessis het flink gereageer toe polisiebeamptes begin skree het en die vermeende dief agterna gesit en plat geduik.

“Ek en Cornell het buite die stasie gestaan en gesels. Die volgende oomblik het ‘n jong, fris geboude man op ons afgestorm. Cornell het hom plat geduik en sy arms agter sy rug vasgehou. Ek was verslae en het in die polisiestasie ingehardloop om hulp te kry. Daar was baie mense, maar omdat dit ‘n noodgeval was, het ek ingedruk en by die toonbank vir hulp gegil. Die mense was kwaad en het gesê: ‘Can you see this is a row?’ Ek het vir die vrou gesê dis ‘n geval van lewe en dood. Die polisie het op my gil gereageer en met pistole uitgehardloop”. Steeds was daar geen boeie in sig nie, en die man is aan sy hande en voete na die selle gedra waarna hy met water gespuit is en met ‘n dik swart belt geslaan is. Die koerant is van die toneel verbied.

Die polisie is genader vir kommentaar, maar die kommunikasiewoordvoerder, kapt. Mabokalate Mashabela, het gesê dat hy met verlof was en nie inligting rakende die voorval het nie. Die koerant het egter sers. EF Tebele genader wat ook tydens die voorval op die toneel was. Hy wou egter nie die identiteit van die man bekendmaak nie, maar het wel bevestig dat die man in Uitbreiding 9 gearresteer is nadat hy ‘n bed gesteel het. “Ek het geen verdere inligting rakende die gerugte wat die ronde doen dat die polisie nie oor boeie beskik nie”, het hy gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button