Die skade wat by die Barberton Gholfklub aangerig is nadat daar verlede Woensdagnag ingebreek is, word na raming op R100 000 geskat.
Toe die personeel soos gewoonlik Donderdagoggend vir werk opgedaag het, het hulle by nadere ondersoek ontdek dat booswigte probeer het om deur die dak toegang te verkry. Hulle het egter dit laat vaar en deur die kantoorvenster ingebreek. Die muurkluis is uitgeruk en ongeveer R6 000 is gesteel. Die sigaretmuntoutomaat is oopgebreek en al die voorraad is gestroop. In die twee kroeë is derduisende rande se drank en ander pryse ook gesteel. Die kasregisters is ook leeggemaak. Die skelms se poging om deur die muur te breek om toegang tot die groot kluis te verkry, het misluk. By sommige plekke is die veiligheidshekke en slotte oopgebreek en die klub was in ‘n chaotiese toestand.
Vingerafdrukke is deur die SAPS geneem en die saak word tans ondersoek.
