MBOMBELA – ‘n Verkoopskonsultant van Crown National wat Vrydagaand by Innibos was, is dood toe sy voertuig in Enos Mabuza-rylaan in ‘n trompop-botsing was.
Hy was na bewering op pad huis toe, toe die ongeluk omstreeks 23:45 gebeur het – net na die verkeersirkel by Noordsig-landgoed in Steiltes se rigting.
Mnr. Dudley Hatton-Jones sou Sondag boonop sy 36ste verjaarsdag gevier het en verskeie vriende het huldeblyke op sy Facebook-blad gelaat.
Hy self was in Steiltes se rigting onderweg toe sy Volkswagen Polo met ‘n Ford Ranger, wat in die teenoorgestelde rigting onderweg was, gebots het. Paramedici van Lifemed en Hi-Tech Medical Services is na die toneel ontbied. Me. Metrie Greyling van Lifemed het Hatton-Jones probeer bybring, maar moes hom op die toneel dood verklaar.
Die bestuurder van die Ford het teenoor me. Tristan van Huyssteen van Hi-Tech Medical Services gekla dat sy nek seer is. “Dit is my pa se Ford. Hy is in Mosambiek.” het hy ook gesê.
Van Huyssteen het hom in die ambulans ondersoek, maar hy het gesê dat hy nie hospitaal toe wil gaan nie. Hy het gevra oor die bestuurder van die Polo en was geskok om te hoor dat hy dood is. “Toe ek weer sien, is hy voor my,” het hy nog opgemerk.
Van Huyssteen wou nog aan hom ‘n vorm gee wat hy moes onderteken om te sê dat hy nie hospitaal toe wou gaan nie, maar hy het uit die ambulans geklim en verdwyn.
Kapt. Dawie Pretorius, Nelspruitse polisiewoordvoerder, het dit bevestig. “Ons ondersoek ‘n klag van strafbare manslag, asook die verlaat van ‘n ongelukstoneel en die versuim om ‘n ongeluk binne 24 uur aan te meld,” het hy gesê.
Hatton-Jones het twee seuns uit ‘n vorige huwelik en was in ‘n verhouding met me. Annelize Jansen van Vuuren. Hy was ook ‘n kranige krieketspeler wat vir Nelspruit Krieketklub gespeel het.
