MBOMBELA – ‘n Saak van poging tot moord teen ‘n man wat verfilm is toe hy iemand buite ‘n vulstasie aangerand het, is voorlopig teruggetrek omdat die ondersoek nog nie afgehandel is nie.
Die verhoor van mnr. Cat Smit moes Woensdag in die streekshof begin, maar is verlopigvir verdere ondersoek teruggetrek. “Sodra die ondersoek afgehandel is, sal die saak weer op die rol geplaas word,” het polisiewoordvoerder kapt. Dawie Pretorius gesê.
Mnr. Johan Panner Cronjé het in Julie verlede jaar by die Engen-vulstasie op die R40 oorkant Grove gestop. Hy is by die gerieflikheidswinkel in. Smit en ‘n medebeskuldigde in die saak, me. Carmen Brown, was ook daar. Cronjé en Smit is later na buite waar Smit hom begin slaan en skop het.
Hulle is later terug die winkel in waar die aanranding voortgesit is. Die hele petalje is op kringtelevisiekameras vasgevang. Cronjé het ernstige beserings opgedoen en is vir langer as ‘n maand in Mediclinic Nelspruit se intensiewesorgeenheid behandel.
Smit was medeeienaar van Tango Blue, ‘n onkleeklub in Rocky Drift. Hy het by monde van sy prokureur nie eens die aanranding ontken nie, maar bygevoeg dat dit nie “onregmatig” was nie. Hy het aangevoer dat Cronjé die aand daar was en duisende rande uitgedrink het voordat hy gery het sonder om te betaal.
Laevelder het boodskappe by speurhoof kol. Gerrie Agenbag gelos om te hoor wat nog in die ondersoek uitstaande is. Hy het nie gereageer nie.
