CrimeHard newsNewsNewsUpdate

Twee uiteindelik in hof na aanranding verlede jaar

Barnard het later sy aanvaller op 'n foto uitgeken, maar geen arrestasies is gemaak nie

WITRIVIER – Twee mense sal Maandag uiteindelik in die hof verskyn op ‘n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat mnr. Brian Barnard (21) verlede jaar by ‘n gewilde kuierplek in die dorp geskend is. Hy is na bewering deur ‘n prominente man in die sekuriteitsbedryf aangerand.
Die twee verdagtes mag eers dán geïdentifiseer word. Laevelder het al verskeie kere oor die voorval op 15 November verlede jaar berig. Barnard was by Bahati en het onwetend saam met ‘n verdagte in ‘n plaasaanval gekuier. Lede van die polisie se blitspatrollie asook lede van J&M Sekuriteit is ingelig dat die verdagte by Bahati was en is soontoe om hom te arresteer.

Barnard en mense wat saam met hom aan die tafel was is na die grond gedwing. Barnard het teenstand gebied omdat die mans in burgerlike drag was. Ooggetuies het vertel dat iemand van J&M Sekuriteit hom met die agterkant van ‘n geweer begin bydam het. Die verdagte het hulle toe glo aangesê om Barnard te los aangesien “hy niks daarmee te doen gehad het nie”.

Familielede het met hom na Mediclinic Nelspruit gejaag en sy neef het later ‘n stuk van sy neus in Bahati se parkeerarea opgetel. Hy moes intussen verskeie operasies ondergaan en sy gesig is misvorm.

Barnard het later sy aanvaller op ‘n foto uitgeken, maar geen arrestasies is gemaak nie. Iemand is wel later aangekla, maar die dossier is eers na die direkteur van openbare vervolging gestuur om te besluit of die man in die hof moet verskyn. Kol. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het hierdie week bevestig dat twee mans Maandag in Witrivier se landdroshof moet verskyn.

Barnard se ma, me. Elsabé Barnard, het intussen vertel dat dit glad nie goed met haar seun gaan nie. “Brian se gesig het skeef getrek aan die een kant en hy sal nog verskeie operasies moet ondergaan. Hy kan nog steeds nie werk nie en ontvang sielkundige behandeling vir post-traumatiese stresversteuring.”

Sy het bygevoeg dat hulle nog niks van die polisie gehoor het rakende die ondersoek nie. “Ons is wel besig om die verdagte siviel te dagvaar en ‘n regsverteenwoordiger het aangedui dat die saak volgende jaar Julie aangehoor sal word.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button