CrimeHard newsNewsNewsUpdate

Rugbyspeler erken hy het voertuig bestuur; ontken omkopery

Hlathi wou nie die bestuurder van die voertuig identifiseer nie omdat hy 'n getuie is. Laevelder het egter vasgestel dat dit Visagie was. Hy het self erken dat hy die voertuig bestuur het

MBOMBELA – Die man wat twee weke gelede in ‘n ongeluk was en na bewering twee polisiekonstabels omgekoop het sodat hulle hom nie hospitaal toe moes vat vir bloed-alkoholtoetse nie, is mnr. Gary Visagie (27), seun van die oud-Springbok, Rudi (Vleis) Visagie.

Hy is self ‘n kranige rugbyspeler en draf tans uit as slot vir Nelspruit Rugbyklub se eerste span. Hoewel hy volhou dat hy nié die polisiemanne omgekoop het nie, het hy nie ontken dat hy die voertuig bestuur het nie.

Laevelder het verlede week berig oor konst. Thulani Mathe (35) en konst. Walter Nxumayo (32) wat aangekla word nadat hulle na bewering omkoopgeld van R400 aanvaar het. Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, kol. Leonard Hlathi, is Mathe en Nxumayo omstreeks 08:00 op 26 Julie uit na ‘n ongelukstoneel by The Grove se parkeerarea. ‘n Ingeligte bron het egter aan die koerant gesê dat die ongeluk die Saterdagaand omstreeks 22:00 plaasgevind het.

Twee voertuie het met mekaar gebots en die een se bestuurder was ‘n vrou wat vyf maande swanger is. Die bestuurder van die ander voertuig het na bewering na drank geruik en die konstabels het hom glo vertel dat, sou hy hulle R1 000 betaal, hulle hom nie hospitaal toe sou vat sodat sy bloed getrek kon word nie.

Hy kon hulle net R400 betaal en hulle het dit na bewering aanvaar. Hy is glo toegelaat om die toneel te verlaat en die konstabels sou hom later kontak met ‘n ongeluksverslagnommer.

“‘n Polisiebeampte van Witrivier se honde-eenheid is van die voorval ingelig en hy het die twee konstabels na Mbombela se polisiestasie gevolg waar hy hulle gekonfronteer het,” het Hlathi gesê.

Hulle is deursoek, maar die kontant is glo nie op hulle gevind nie. ‘n Polisiekaptein het ook betrokke geraak en die twee konstabels is gearresteer. Mathe het glo handgemeen geraak met die kaptein en word ook van aanranding op hom aangekla.

Hlathi wou nie die bestuurder van die voertuig identifiseer nie omdat hy ‘n getuie is. Laevelder het egter vasgestel dat dit Visagie was. Hy het self erken dat hy die voertuig bestuur het. Die koerant het hom oor die ongeluk uitgevra en hy het gesê dat hy nié polisiebeamptes omgekoop het nie en “nie weet waar die koerant aan sy feite kom nie”.

“Ek het gehoor van die goed wat julle (Laevelder) oor my geskryf het en ek weet nie waar kom julle daaraan nie. Dit het nie eens in The Grove se parkeerarea gebeur nie. Ek het nie polisiemanne omgekoop nie,” het Visagie gesê.
Hy het gevra dat die koerant hom terugskakel aangesien hy bestuur het. Hy het egter intussen regsadvies ingewin. “Hy sê ek moet onder geen omstandighede verder met julle praat nie. Hy sê ook julle mag geen name publiseer voordat die ondersoek nie afgehandel is nie.”

Hy het verdere navrae na dié regsverteenwoordiger, mnr. Schalk de Waal, verwys. “Ek is nie by magte om met julle te praat terwyl die ondersoek nog aan die gang is nie,” is al wat De Waal wou sê.

Hlathi het intussen by navraag gesê dat ‘n interne ondersoek na die twee konstabels se beweerde wangedrag reeds van stapel gestuur is. “Hulle is tans by die werk. Sodra die ondersoek afgehandel is, sal hulle 14 dae hê om te reageer deur te sê hoekom hulle nié geskors behoort te word nie.”

Hulle moet weer op 26 Augustus in die hof verskyn.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button