
Sewe onwettige immigrante is Maandagmiddag gearresteer nadat hulle glo kwaad gestook het op ‘n plantasie. Die mans is gearresteer nadat hulle deur Bossies Community Justice (BCJ) en Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit by Tarentaal SPAR aangekeer is.
Volgens mnr. Jacques Meiring van BCJ het hy die oggend ‘n oproep van mnr. Nico Gelderblom, ‘n kontrakteur in die bosboubedryf naby Barberton ontvang.
Hy het gesê agt mans het hom Sondag vir ‘n moontlike werksgeleentheid genader. Hy het aangedui dat hy eers hul identiteitsdokumente wou sien voordat hy hulle sou aanstel. Die mans het beweer dat hul papiere by die huis is, maar dat hulle dit die volgende dag vir hom sal bring.
“Toe hulle die volgende dag opdaag, het hulle sy ander werkers opgesteek om saam met hulle oor hul lone wat kamstig nie goed genoeg is nie, te staak” sê Meiring.
Gelderblom het vir BCJ geskakel en om hulp gevra. Omdat die mans klaar agter op sy voertuig was het Meiring voorgestel hy ry Mbombela toe waar die mans, wat volgens Meiring van Mosambiek af kom, aangekeer is. Teen druktyd was hulle in polisieaanhouding en hulle sou na verwagting vandag in die hof verskyn.
