Hokkietoernooi ‘n reusesukses
Die gr. 11’s was vanjaar die senior wenners en die gr. 9’s die juniors. Die bes geklede span was die gr. 8's.
Die sewes-hokkietoernooi by Hoërskool Lydenburg het vir groot pret gesorg toe gemengde spanne mekaar die stryd aansê.
Die toernooi bestaan uit ‘n junior, vir gr. 8’s en gr. 9’s, en ‘n senior poel, vir gr. 10’s en gr. 11’s. ‘n Span bestaan uit nege leerlinge waarvan sewe op die baan moet wees, en ‘n minimum van vier dogters insluit.
Volgens die hokkie-organiseerder van die skool, Hanlie McGill, stel leerders self spanne saam en besluit op ‘n naam en spandrag.
Die toernooi het oorspronklik in Witrivier by Uplands College begin waar hulle saam met Lydenburg, Middelburg en Rob Ferreira deelgeneem het. Volgens McGill het dit later na Witbank verskuif en as die Hockey Farm bekendgestaan.
Na aanleiding van ‘n toernooi soos hierdie het die skool besluit om ‘n soortgelyke een hier aan te bied.
“Dit het begin as ‘n afsluiting vir die hokkieseisoen of inleiding vir voorseisoen-oefening,” het sy gesê en bygevoeg dat dié dag ook ten doel het om nuwe talent te ontdek en blootstelling aan voornemende spelers op ‘n prettige en informele manier, te gee.
Die gr. 11’s was vanjaar die senior wenners en die gr. 9’s die juniors. Die bes geklede span was die gr. 8’s.
McGill bedank graag elke speler vir hul gees en entoesiasme wat van die dag ‘n reusesukses gemaak het.
