Vrou geskok oor die skietdood van waghond
Malan het aan die koerant gesê dat die koeël voor deur sy ribbes, regdeur die diafragma en derms gegaan het. "Ek het gesukkel om die koeël op te spoor. Ek het dit uiteindelik in sy regteragterbeen gekry."
LYDENBURG – ‘n Man se beste vriend is gewoonlik daar vir beskerming, liefde en samesyn, maar een vrou se getroue waghond is verlede week wreed en sinneloos doodgeskiet.
Volgens me. Christel Ehlers van Lydenburg Skrootwerf, het sy verlede Dinsdag soos enige ander oggend die onderneming gaan oopsluit.
“Ek het gesien dat die hok waarin die honde slaap oop is. Ek het die werknemers gevra waar Bles is en ons het begin soek na hom. Ons het hom eindelik in die lang gras ‘n entjie van die hek af sien lê. Ons het hom omgedraai en toe die koeëlwond gesien.”
Volgens Ehlers ken sy die man wat van haar hond se dood beskuldig word. Sy sê sy het ook ‘n ander hond deur sy dade verloor. Hy het glo ‘n strik gestel en dié dier het homself daarin opgehang.
“Hy het al baie gedreig en gesê dat hy vir Bles gaan skiet. Nou het hy sy teiken gekry. Hy kon my net gebel het en gesê het die hond is lastig en ek sou hom weer toegemaak het.”
Die kommunikasiewoordvoerder van Lydenburg SAPS, kapt. Mabokalate Mashabela, het die voorval bevestig en het gesê dat mnr. Jan van der Vlugt gearresteer is. Hy is van kwaadwillige beskadiging van eiendom aangekla. Polisieborg is aan hom by die stasie gegee. Van der Vlugt het reeds vlugtig in die Lydenburgse landdroshof verskyn.
Ehlers sê die hele situasie was baie traumaties vir haar. Nadat sy vir Bles begrawe het, moes sy hom weer vir ‘n nadoodse ondersoek by Longtom Dierekliniek opgrawe. “Dr. Marietjie Malan het dit uitgevoer. Sy was baie goed en het gesoek totdat sy die koeël kon kry. Dit was baie traumaties, ek is tot nou toe skoon siek.”
Malan het aan die koerant gesê dat die koeël voor deur sy ribbes, regdeur die diafragma en derms gegaan het. “Ek het gesukkel om die koeël op te spoor. Ek het dit uiteindelik in sy regteragterbeen gekry.”
Sy meen dat dit moeilik is om te sê of die hond op slag dood is. “Daar is ‘n 3cm koeëlronde gat waar die staalpunt van die koeël deur is. Drie ribbes is afgeskiet. Die hond moes met ‘n groot kaliber geweer geskiet gewees het.”
Ehlers sê dat hulle al agt jaar vir Bles gehad het. “Ons het hom as ‘n babahondjie gekry. Ons gaan hom baie mis, hy was ‘n legende by die skrootwerf. Die skieter kon my regtig net gebel het, al was dit deur die nag, ek sou hom gaan toemaak het.”
