Editor's choiceHard newsLocal newsNewsNews

Historiese begraafplaas deur vandale geteiken

Die begraafplaas het enorme historiese waarde vir die dorp en sy voorsate wat daar te ruste gelê is.

LYDENBURG – Twee uit drie minderjariges is verlede week vasgetrek toe hulle glo ysteromheinings uit die historiese begraafplaas probeer verkoop het vir skrootmetaal.

Volgens die opsigter by BJ metals, mnr. Hendrik Langa, het een van die seuns die vorige week ‘n soortgelyke ysteromheining gebring om te verkoop. “Ek het die omheining gebêre vir ingeval hulle sou terugkom met nog metaal. Ek het dadelik opgemerk dat dit die omheining van die ou begraafplaas is.”

Verlede Vrydag het die drie met nog twee kruiwaens vol van die heining se metaal by die besigheid opgedaag. “Ek het hulle gekonfronteer en gevra waar hulle dié ysters vandaan kry. Een van die seuns het gesê dat ‘n ander man dit glo vir hulle gegee het. Ek het hulle gevra om my na die persoon toe te neem. Intussen het ek vir een van die ander werknemers gevra om die sekuriteit te ontbied.”

Intussen het een van die drie kwajongens lont geruik en laat spaander. Die ander twee is deur ‘n sekuriteitswag by die perseel aangekeer en aan die polisie oorhandig. Die verdagtes is apart ondervra aangesien hul stories oor waar hulle die metaal gekry het, nie ooreengestem het nie.

Volgens die eienaar, me. Bernadine Sutherland, is die onderneming gereeld op die uitkyk vir sulke gevalle waar vandalisme betrokke is. “Ons is al sewe jaar in die bedryf. Ongeveer ‘n jaar gelede het ons verskeie grafplaatjies, wat van grafte wat die nommers van grafte aandui, en van grafte af gesteel is, aan die museum oorhandig. Dit gebeur gelukkig selde.”

Die begraafplaas het enorme historiese waarde vir die dorp en sy voorsate wat daar te ruste gelê is.

Nie net het die begraafplaas geskiedkundige belang nie, dit verwys ook na Lydenburg se baie omwentelinge in sy bestaan van 163 jaar. Daar is ook talle grafte hier wat getuig van ‘n eens groot Duitse gemeenskap.

Die oudste graf is dié van mnr. Gabriel Stefanus Maré, gebore in 1790 en begrawe in 1852, skaars twee jaar na die stigting van die dorp. Volgens mnr. Hans Meyer, geskiedkundige kenner in die dorp, is daar ook verskeie Engelse en kindergrafte. “Daar is meer as 3 000 grafte in die begraafplaas.”

Meyer meen dat dié begraafplaas eintlik die dorp se monument is.

Die koerant het navrae aan die polisie se kommunikasiewoordvoerder, kapt. Mabokalate Mashabela van Lydenburg SAPS rakende die voorva gerigl. Mashabela kon egter teen druktyd nie bevestig of die minderjariges aangekla is of in die hof verskyn het nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button