Skool ontvang nuwe fietse
Coates het Du Toit geprys vir haar entoesiasme en bedank vir die liefde wat sy onder leerlinge vir dié sport kweek.
Dit was ‘n vreugdevolle dag vir Blessing Moima, ‘n fietsryer van Hoërskool Lydenburg, toe hy nie net sy beste prestasie in die Spur-skolebergfietsreeks gevier het nie, maar hy ook kon deel in die opgewondenheid van fietsryers van sy skool toe hulle Saterdag met drie splinternuwe fietse beloon is.
‘n Rekordgetal van 320 ryers, waarvan 60 leerlinge van Hoërskool Lydenburg was, het die afgelope naweek op Mankele toegesak vir die derde been van dié gewilde bergfietsreeks.
Bret Coates en Sandy Korb van die Lowveld Chain Gang Cycle Club het besluit om die skool te beloon vir hul deelname en gesorg vir breë glimlagte toe drie Pinnacle-fietse aan die fietsry-organiseerder, me. Ronel du Toit, oorhandig is.
Coates het Du Toit geprys vir haar entoesiasme en bedank vir die liefde wat sy onder leerlinge vir dié sport kweek.
“Ronel bring gereeld talle fietsryers na kompetisies en ons het besluit om haar te beloon vir die wonderlike werk wat sy doen om ‘n sport soos bergfietsry in haar skool te bevorder.”
Du Toit het haar die afgelope paar jaar op ontwikkeling toegespits en kinders aangemoedig om ‘n gesonde sportsoort te beoefen. “Nie al die kinders kan altyd noodwendig aan ‘n spansport deelneem nie en fietsry is dus ‘n ideale opsie”.
Sy meen die organisering soms ‘n uitdaging is, veral wanneer groot getalle inskrywings soos die afgelope naweek plaasvind. “Dis ‘n groot storie om fietse geleen te kry en te sorg dat elke kind ‘n fiets het om mee te ry. Tussen die verskillende ouderdomsgorepe ruil ons dus fietse om te verseker dat elkeen wel ‘n fiets het”, het sy gesê.
Du Toit bedank graag die Lowveld Chain Gang Cycle Club vir hul ondersteuning. Die laaste wedren vind môre (Saterdag) by Penryn College plaas..Dié skool is tans die voorloper in die reeks.
Uitslae
Podiumplekke
Sub-junior meisiesafdeling: Stephnie Fritz (3de)
Jeug-seuns: Keegan Clark (3de)
Junior meisies: Mignon Black (2de)
Junior seuns: Blessing Moima (2de).
