MBOMBELA – Die omstrede glasgooisaak is afgehandel, vir eers. Mnr. Johan Blom en sy vermeende slagoffer, mnr. Reghardt Koekemoer, het onlangs buite die hof geskik en Blom het die geld betaal.
Dit was nagenoeg R335 000. Laevelder het al verskeie kere berig oor die voorval by Coyotes in November 2011 waartydens Blom na bewering vir Koekemoer met ‘n glas in die oog gegooi het. Dié kroeg het intussen sy deure gesluit.
Koekemoer en Blom se seun, mnr. Matt Blom, het vroeër daardie aand ‘n woordewisseling gehad.
Blom sr. wou hierna telkens vir Koekemoer bydam. Dit kan duidelik op ‘n video wat die kroeg se kringtelevisiekameras opgeneem het, gesien word. Blom het later na die anderkant van die kroeg beweeg en ‘n glas het Koekemoer kort hierna in die regteroog getref.
Hy is vandag blind in dié oog ondanks verskeie operasies en dit gaan moontlik nou verwyder en met ‘n silikoonoog vervang word. Blom is aanvanklik krimineel aangekla, maar die saak is later van die rol geskrap. Koekemoer het toe ‘n siviele eis teen hom ingestel en die saak sou vroeër vandeesmaand in die Gautengse Hooggeregshof aangehoor word. Hy en Blom het egter kort voor dit sou gebeur, buite die hof geskik.
Koekemoer se regsverteenwoordiger, mnr. André van Zyl, het gesê dat Blom in pleitstukke erken het dat dit hy was wat die glas gegooi het. Koekemoer het gister by navraag gesê dat speurders van Mbombela met hom in verbinding is om die saak weer op die kriminele hofrol te plaas.
