CrimeHard newsLocal newsNewsNews

‘n Tas propvol skuldenaars in Donderdag se mosiehof

Skuldenaars verskyn elke Donderdag in die Mbombela landdroshof - behoede jou as jy nie opdaag nie.

MBOMBELA – Donderdag heet nie sommer net Donderdag nie. Dis mosiehof dag.

Vir die skuldenaars in ons streek beteken dit dat hulle weer in ‘n lang ry moet staan en wag om die hof te woord te staan ten opsigte van die afbetaling van hulle vonnisskuld.

En het Mbombela vir jou vonnisskuld!

Suid-Afrikaanse wetgewers het al ingegryp en oplossings aangebied vir diegene in die knyp. Skuldhersiening, skuldberading en skulderkennings- en afbetalingsooreenkomste bied uitkoms vir die wat nie hulle rekeninge betaal het nie. Ongelukkig is daar tientalle wat nie van hierdie geleenthede gebruik maak nie en nou voor die reg
bank moet verantwoording doen vir hulle “swip-swipe-sondes.”

Die regsverteenwoordigers wat gemoeid is daarmee om die skuldenaars en skuldeisers in die siviele hof te verteenwoordig tree elke Donderdag om 09:00 aan, gepantser met ‘n pak hofleers. Een wafferse jong knaap het gister met ‘n enorme wieletjiestas vol vonnisskuldeisers en -skuldenaars by die hof aangemeld.

Dan word die hofrol getakel – die dag kan enigiets van twee tot 72 aangeleenthede inhou.

Elke skuldenaar moet drie maal geroep word – hardop in die gange van die hof. Sou die verteenwoordiger vir die skuldeiser nie so roep dat ‘n mens hom kan hoor nie, word hy aangemaan om die skuldenaar se naam weer drie maal te gaan bulder. Wanneer die skuldenaar die getuiebank betree, word hy ondervra rakende sy finansiele posisie. Hierdie prosedure kan wel in camera geskied, aangesien die privaatheid van die skuldenaar beskerming verdien.

Waar ‘n skuldenaar se naam drie maal ge-eggo het en hy of sy afwesig blyk te wees, kan ‘n lasbrief vir sy arres uitgereik word. Die effek hiervan is dat hy of sy gearresteer word om volgende Donderdag in die ry te kom staan.

Dis die begin van die somer en ons almal hoop vir reën.

Terwyl jy so hoop, betaal tog net jou rekeninge en jou vonnisskuld, voordat ‘n hoflêer met jou naam op in ‘n wielietjietas beland.  Dan moet ons nou nog vir beter dae hoop ook.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button