CrimeHard newsNewsNewsUpdate

Gastehuis-eienaar skiet inbreker dood

Pa skiet vermeende rower dood om sy dogter te beskerm.

MBOMBELA – ‘n Eienaar van ‘n gastehuis het Sondag om 04:30 ‘n inbreker wat glo gepoog het om sy dogter te verkrag, doodgeskiet. Die inbreker wat dood is het op die eienaar óók geskiet en ‘n saak van poging tot moord is geopen.

Die voorval het by Jock’s Gastehuis in Vennstraat plaasgevind. Volgens inligting oor die gastehuis op die internet, word dit deur me. Linette Henning bedryf. Dit is nie duidelik of haar man ook by die gastehuis betrokke is nie.

Inwoners in die area het getuig dat hulle wakker geword het van ‘n alarm waarna vyf geweerskote gevolg het. 

Volgens mnr. Nico Grobler, operasionele bestuurder van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit, is die eienaars kliënte van Chubb Sekuriteit. 
Hulle het die panieksein gedruk, maar Chubb het nooit opgedaag nie. “Die man het vir sy vrou gesê om Hi-Tech ook te bel. Ons en mnr. Jacques Meiring van Bossie’s Community Justice (BCJ) is na die toneel,” het Grobler vertel. 

Die man het aan Grobler vertel dat sy dogter in ‘n aangrensende woonstel op die perseel woon en dat hy haar hoor skree het. “Hy het sy vuurwapen gegryp en gaan ondersoek instel.”

Die man kon sien dat daar ‘n verdagte by sy dogter in die kamer was. Hy het hom beveel om stil te staan waarna die verdagte op hom begin skiet het. 

Die man het terug geskiet en die verdagte het by die venster uitgespring en sy vuurwapen laat val. Die man het hom agternagesit, waarna ‘n tweede verdagte by die venster uitgespring en die vuurwapen wat sy makker laat val het, gegryp het. 

“Die eerste verdagte het nog gepoog om oor die muur te spring toe hy inmekaargesak het,” het Grobler bygevoeg. Hy is op die toneel dood verklaar. Dit blyk dat hy deur die sy geskiet en in die hart of longe getref is. Die egpaar se dogter is met ‘n mes teen haar keel aangehou. 

“Sy is wel beseer en daar is van haar bloed ook in die vertrek gekry. Ek is van mening dat haar pa moontlik deur sy optrede ‘n verkragting verhoed het,” het Grobler benadruk.

Kapt. Dawie Pretorius, polisiewoordvoerder, het gesê dat ‘n geregtelike doodsondersoek sal plaasvind, waarna daar besluit sal word of die eienaar van moord aangekla sal word. “‘n Saak van poging tot moord word ook ondersoek omdat daar op die eienaar geskiet is,” het Pretorius verduidelik.

Laevelder het me. Henning geskakel. Sy het aanvanklik gesê dat die gastehuis na die voorval sy deure gesluit het. Sy het by ‘n tweede geleentheid gesê dat sy nie kommentaar wil lewer nie. 

• Op 15 Februarie verlede jaar is ‘n jong vrou in haar woonstel in Hunterstraat, net agter Vennstraat, verkrag. Msikane Raymond Maluleka het skuldig gepleit en is ook met behulp van DNS met dié voorval verbind. Hy is in Junie vanjaar lewenslange tronkstraf vir die misdaad opgelê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button