Twee gesinne by Alkmaar aangeval
Drie mans is steeds op vrye voet nadat hulle glo gewapende aanvalle op twee huishoudings in die Alkmaar-gebied geloods het. ‘n Klopjag wat Maandagaand op die perseel uitgevoer is, waar die gesteelde goedere vermoedelik gestoor was, het ook niks opgelewer nie. Mnr. Nico Grobler, operasionele bestuurder van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit het gesê hulle het inligting …

Drie mans is steeds op vrye voet nadat hulle glo gewapende aanvalle op twee huishoudings in die Alkmaar-gebied
geloods het.
‘n Klopjag wat Maandagaand op die perseel uitgevoer is, waar die gesteelde goedere vermoedelik gestoor was, het ook niks opgelewer nie.
Mnr. Nico Grobler, operasionele bestuurder van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit het gesê hulle het inligting van ‘n betroubare bron, wat glo ‘n persoonlike verhouding met die aanvallers het, ontvang oor die bergplek van die gesteelde goedere, asook die haelgeweer wat die aanvallers gebruik het.
“Boewe hou selde die buit vir langer as ‘n dag op een plek, maar ons is besig om ander leidrade te ondersoek,” het Grobler gesê.
Die voorvalle het verlede Donderdag in die vroeë oggendure plaasgevind. Drie aanvallers het by ‘n huis in Hawkshead ingebreek.
Hulle het toegang deur ‘n venster verkry. Die inwoner het sy alarm hoor afgaan en drie mans in sy TV-kamer betrap. Hy is terug na sy kamer om ‘n vuurwapen (windbuks) te kry.
Met sy terugkeer het hy hom egter in ‘n haelgeweer vasgeloop.
Die inbrekers het op hom geskiet, maar gemis. Hulle het met ‘n platskermtelevisie gevlug.
Hi-Tech is dadelik ontbied, maar kon die verdagtes nie opspoor nie. Hulle het die volgende dag vasgestel dat dieselfde booswigte vroeër daardie aand by ‘n kothuis op dieselfde plaas ingebreek het.
‘n Jong paartjie is oorval en vasgebind, terwyl hul tweejarige kind en baba in die huis was.
Die aanvallers het glo gedreig om die paartjie te skiet as hulle nie saamwerk nie, en vir die vrou gevra hoekom hulle so arm
is, omdat hulle so min besittings in die huis
gehad het.
Tog het die aanvallers met babaklere en die bietjie kos wat in hul yskas was, gevlug.
Nadat die inligting ontvang is, is Hi-Tech deur lede van die SAPD vergesel, maar hul soektog was vergeefs.
Die aanvallers het reeds die gesteelde goedere en die haelgeweer verskuif.
