Editor's choiceHard newsLocal newsNewsNews

Nalatigheid dalk oorsaak van amputasie

Toe die verbande daar afgehaal is, was sy voet al pikswart. Sy been is verlede Dinsdag onder die knie geamputeer.

LYDENBURG – ‘n Man wat veronderstel was om twee tone te laat amputeer weens gangrene, se been is onlangs onder die knie afgesit. Dit, glo sy dogter, is as gevolg van die nalatigheid van Lydenburg Hospitaal.

Mnr. Joseph Ferreira (61), ‘n inwoner van Rusoord-ouetehuis, is op Sondag 14 September in dié hospitaal opgeneem na iemand per ongeluk op sy tone getrap het. Hy is ‘n diabeet en as gevolg daarvan het die tone begin ontsteek. Dit sou die daaropvolgende Maandag geamputeer word.

“Die Dinsdag het ons egter verneem dat die operasie nie gedoen is nie. Hulle het gesê dat daar iets fout was met sy hart. Die operasie is toe na Vrydag uitgestel. Ons was deurentyd met hom in gesprek, maar sedert die Donderdag voor die operasie kon ons hom nie in die hande kry nie. Die hospitaal se telefoon is nie beantwoord nie. Vrydag het ek een van my vriendinne gestuur om na my pa te gaan kyk aangesien ons in Burgersfort bly. Sy het my laat weet dat sy nie mag ingaan nie omdat dit nie besoektyd was nie. Die sekuriteit het egter bevestig dat hy daar was, maar dat die operasie steeds nie uitgevoer is nie,” verduidelik Elize Moll, Ferreira se dogter.

Saterdag 20 September het Moll self deurgery om haar pa te besoek. “Die swelling in die voet het gesak en die personeel het vir my gese dat hy Maandag geopereer sou word. Toe ons egter Maandag skakel om te hoor of die amputasie gedoen is, was daar weer geen antwoord op die hospitaal se landlyn nie en Dinsdag weer.”

Woensdag 24 September het sy weer haar pa besoek waar sy verneem het die operasie is steeds nie uitgevoer nie. Wéér het die suster vir haar gesê dat die operasie as gevolg van sy hartversaking nie gedoen kon word nie. “Goed, ek verstaan dit, maar intussen het hy ‘n sweer op sy hak ontwikkel. Toe ons terugkeer Burgersfort toe het ek egter gevoel dat my pa koorsig is en ek het die susters ingelig. Ek het gevra vir nuwe beddegoed, maar die personeel het gesê dat hulle moeg was en dit nie gaan ruil nie. Ons het dit toe maar self gedoen.”

Teen Vrydag het dit egter glad nie goed met hom gegaan nie, sy hele liggaam was besmet as gevolg van die sepsis in die voet. “Die dokter aan diens het my ‘n vorm laat teken vir onmiddelike amputasie omdat my pa nie daartoe in staat was nie. Hulle sou ook die wond in sy voet skoonmaak. Omdat die hak ook besmet was sou hulle dus sy hele voet moes amputeer tot by die enkel. Die operasie sou Maandag 29 September plaasvind.”

Maandag het gekom en gegaan en weer eens is die operasie nie uitgevoer nie. By navraag het die dokter weer aan haar gesê dat haar pa te siek was om die operasie te ondergaan. “Wat ek nie kan verstaan nie is dat hulle gesê het dat dit ‘n noodoperasie was. Dis toe dat hy aan my bevestig dat hulle ‘n vlak 1-hospitaal is en dat hulle dit nie daar kon doen nie.”

Intussen het Fourie se hele voet reeds begin om te verkleur. Moll het hom na dr. Jan Steinberg geneem en hy is na Mediclinic Nelspruit verwys. “Ek moes ‘n brief onderteken dat ek geen verdere hulp van Lydenburg Hospitaal sou aanvaar nie. Ek was nie baie gelukkig daaroor nie. Ek voel hulle moes van die begin af gesê het dat hulle nie die sorg aan hom kon bied nie.”

Moll se dat hulle ongelukkig eers R15 000 moes betaal voor daar op Fourie geopereer kon word. “Ons kon dit nie betaal nie en hy is na Rob Ferreira oorgeplaas.”

Toe die verbande daar afgehaal is, was sy voet al pikswart. Sy been is verlede Dinsdag onder die knie geamputeer.

“As ek dit enigsins kan verhoed sal ek my pa nooit weer daarheen neem nie. As die department net wil wakker skrik en besef wat daar aangaan, maar hulle gee net nie om nie. Ek het hulle vergewe daarvoor, maar wil verhoed dat iemand anders deur dieselfde trauma gaan.”

Die koerant het verskeie navrae aan die Mpumalanga Departement van Gesondheid gestuur. Foto’s van Fourie se voet is ook aangeheg. Die koerant het egter Woensdag met Dr KM Kayembe van Lydenburg hospitaal in aanraking gekom. Kayembe was baie behulpsaam en het gevra dat die navrae rakende die voorval aan hom gestuur word. “Ek sal ‘n verslag opstel oor die gebeure en aan mnr. Dumisane Malamule van die departement deurstuur. Ek sal vra dat ‘n volledige verslag dan ook aan die koerant gestuur word na die ondersoek.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button