Jong man sonder skedel se familie wil hom ‘n kans gun (foto-album)
In die kamer pryk hordes foto's van sy vriende en familie teen die muur, maar dis veral Psalm 91:14-16 se woorde op die heldergeel karton langs sy bed wat die oog vang. 'Omdat hy My liefhet sal Ek hom red, sê die Here. Omdat hy My ken sal ek hom beskerm. Wanneer hy My aanroep sal Ek sy gebed verhoor. In sy nood sal Ek by hom wees.'

MBOMBELA – “Dis soos om in ‘n see te versuip en te probeer om aan ‘n garingdraad te gryp,” vertel me. Joey Boshoff oor haar boetie Wimpie, die eens lewenslustige seun, wat nou woordeloos met sy groot blou oë na die dak in die hospitaalbed lê en staar.
Langs sy bed staan sy ma, pa, ouma en oupa – almal steeds vol hoop, want soos sy sussie sê: “Daar waar daar lewe is, is daar ook hoop.”
Op 28 Februarie is hierdie familie se lewens onderstebo gekeer toe die tyding deurkom dat Wimpie byna leweloos langs die pad lê. Hy was in ‘n gru motorfietsongeluk op die Longtompas.
Volgens mnr. Deon Broekman van N3 Rapid Response wat op die toneel was, is Boshoff sowat 85m van die punt van impak gekry. ‘n Drawwer het sowat ses uur later eers op hom afgekom. “Wimpie het ernstige hoofbeserings opgedoen en ek het onmiddellik die helikopter ontbied,” vertel Broekman. Spoed het waarskynlik ‘n rol gespeel en die feit dat hy eers die volgende oggend gevind is, het sy kanse benadeel. “Ek het aanvanklik nie besef hoe ernstig dit was nie, maar toe ek sien dat my boetie se kop twee keer sy normale grootte was, het ek geskrik en my ma se pleitgebede langs sy bed verstaan. Hy was byna onherkenbaar.”
Joey sê hulle vermoed dat sy valhelm met die val losgekom het, wat veroorsaak het dat hy die grond eerste met sy kop getref het. “Dokters het aan ons verduidelik dat die impak so groot soos ‘n hartaanval was.” Afgesien van bloeding op die brein het Wimpie vyf ribbes gebreek, ‘n skeur in sy long opgedoen en ‘n arm gebreek. “Weens die kopbesering het dokters besluit om sy skedel in ‘n noodoperasie te verwyder.” Die operasie was ‘n sukses, maar die ergste het nog voorgelê.
Wimpie is toe na die Rosecare Hospitaal in Germiston oorgeplaas waar sy skedel teruggesit moes word. Maar, die operasie kon nie plaasvind nie, en sy verduidelik: “Ons het uitgevind dat die dokters nooit die skedel gevries het nie. Dit het gevrot.”
“Miskien het die dokters nie gedink hy sou lank oorleef nie.”
‘n Plastiekskedel is intussen oor sy brein geplaas en die familie het regsadvies begin inwin.
“Dit gaan nie vir ons oor die geld nie,” maak sy pa – ‘n man van min woorde – dit duidelik en jy sien die vasberade kyk in sy oë. “Vir solank as wat ons hom kan sien, aan hom kan vat en vir hom kan sê ons is lief vir hom, sal ons aanhou baklei.”
In die kamer pryk hordes foto’s van sy vriende en familie teen die muur, maar dis veral Psalm 91:14-16 se woorde op die heldergeel karton langs sy bed wat die oog vang. ‘Omdat hy My liefhet sal Ek hom red, sê die Here. Omdat hy My ken sal ek hom beskerm. Wanneer hy My aanroep sal Ek sy gebed verhoor. In sy nood sal Ek by hom wees.’
Wimpie het reeds meer as 40kg na sy ongeluk veloor. Die familie het ook ‘n ander geveg met hul mediese fonds aan die gang. Hulle wil graag vir Wimpie tot einde van die jaar in M-Care hou waar mediese personeel hul beste gee om met sy herstelproses te help. Hulle hou heeldag die horlosie dop in afwagting vir daardie belangrike oproep.
Gisteroggend het die oproep finaal gekom. Wimpie moet uit en die familie het begin reëlings tref dat hy na die Rusoord Kliniek in Lydenburg oorgeplaas word.
“Ons kan dalk nog ‘n paar dae wen, maar die feit bly staan dat hy nie altyd hier sal kan bly nie.”
Dokters het die familie ingelig dat sy toestand onveranderd sal bly. “Volgens hulle gaan Wimpie so bly, maar hoe aanvaar ‘n suster en ‘n ouer dit?” wil sy weet. “Ons garingdrade raak dunner en dit breek makliker, maar ek glo iewers sal ons weer ‘n sterk draad kry om aan vas te klou.
“Ek vra dat elkeen asseblief saam met ons sal bid. Elke gebed help. Dis al wat ons gedra het tot hier en dis ook net gebed wat nou kan genees en ons kan regop hou.
“My oupa het altyd gesê ‘you can’t keep a good man down’ en Wimpie bewys dit deur en deur.”

