Sopkombuis benodig hulp om armoede teë te werk
Soos wat die skenkings opgedroog het, kan hulle nou slegs een maaltyd per week voorsit.
LYDENBURG – Jy sien hulle elke dag op straat. Jy slaan vinnig ‘n ander rigting in as hulle jou nader en om ontslae te raak van hulle druk jy vinnig ‘n R5 in die hand.
Blanke armoede in dié dorp het aansienlik toegeneem. Op elke Facebookblad wat die dorp het, word daar hulp gevra met veral klere en kos.
In plaas daarvan om elke keer ‘n paar rand te gee, sal dit nie beter wees om die persoon te verwys na ‘n plek waar daar ‘n behoorlike bord kos wag nie?
Die Barnardo Trust se sopkombuis, ‘n nie-winsgewende organisasie, beoog om juis dit te doen. Dié projek is twee jaar gelede op die been gebring om voedsame kos aan minderbevoorregte voorsien. Dit gaan egter swaar met die sopkombuis omdat hulle slegs van skenkers afhanklik is.
Past.Neels Barnardo verduidelik dat hulle eens op tyd drie maaltye per week voorsien het. Soos wat die skenkings opgedroog het, kan hulle nou slegs een maaltyd per week voorsit. “Ek doen al vir etlike jare gemeenskapswerk. Barnardo Charity bestaan al sedert 1870. Hulle het die eerste weeshuis in die wêreld begin, so dis in my bloed.”
Barnardo meen dat hulle wel soms vleisbene ontvang. “Ons is nie ondankbaar nie, maar ek kan nie bene vir mense gee om te eet nie. Ons noem dit ‘n sopkombuis, maar die mense ontvang ‘n ordentlike bord kos. Ons gee wat ons het. Tussen 18 en 45 mense eet hier. Ons sal enige kos, vleis en nie-bederfbare produkte of donasies verwelkom.”
Volgens Barnardo is die behoefte besonder groot. “Ek kan ongelukkig nie almal help nie.”
Hy beveel aan dat mense betrokke moet raak by projekte. “In Lydenburg spesifiek gaan dit sleg omdat mense nie verseker is van hulle werk nie. Baie is kontrakteurs by die myne en as die kontrak gestaak word, waarheen gaan hulle? Hoe kom hulle hier weg? Hoe gaan hulle verder?”
Barnardo sê dat die kos wat by dié kombuis bedien word tot die beste van hulle vermoë voorberei word. “Ek sal nie iets bedien wat ek nie self sal eet nie.”
Enige skenkings kan direk by die sopkombuis by Rensburgstraat 41 afgelaai word. Vir enige verdere navrae oor hoe om by dié projek betrokke te raak kan Neels Barnardo by 071-656-7134 geskakel word.
INFO BLOCK
Volgens Solidariteit toon demograwe dat 600 000 Afrikaners tans as arm geklassifiseer kan word.
• 46% van wit huishoudings kan nie ’n huis van meer as R200 000 bekostig nie.
• Daar is tans 77 wit plakkerskampe in Pretoria alleen en meer as 430 landswyd.
• Tussen 1994 en 2005 het wit armoede met 150% toegeneem.
• Daar is tans 131 000 wit huishoudings wat nie voldoende behuising het nie.
• Die behoefte aan voldoende huisvesting gaan na verwagting met ongeveer
7 500 huise per jaar toeneem.
• Om die agterstand van behuising onder arm wit mense oor die volgende tien
jaar uit te wis, moet ’n gemiddeld van 14 000 HOP-huise per jaar vir arm wit
mense gebou word.
• Vir die eerste keer sedert die dertigerjare van die vorige eeu is daar groeiende
getalle armblankes en is daar ‘n nuwe verskynsel van blanke plakkersgebiede
wat rondom veral groter stede soos Pretoria vorm.
