Vermiste vrou steeds soek
"Sy het haar medikasie nodig en ontvang SASSA geld. Sy weet nie altyd wat sy doen nie. Ons het dadelik toe ons agterkom sy is weg, in die kar geklim en begin soek."
LYDENBURG – ‘n 22-jarige vrou is sedert gisteraand vermis. Selomie Bosch het binne ‘n bestek van minute uit haar huis geglip. Sy is nog nie weer gesien nie. Haar ma, Christien, sê dat dit die derde keer in twee maande wat sy wegloop. Selomie lei aan Bi-polêre-gemoedsversteuring en is tans tussen medikasies. “Ek pas haar verskriklik goed op. Gisteraand het sy my binne sekondes ontglip toe ons in die waskamer besig was en die honde moes kosgee. Ek het my rug vir ‘n oomblik gedraai om die honde se bakke te kry. Sy het niks saam met haar gevat nie.” Sy het ‘n swart baadjie, ligte blou hemp met ‘n Indiaan afdruk op, ‘n ligte blou demin en swart en pienk slippers aan. “Sy het haar medikasie nodig en ontvang SASSA geld. Sy weet nie altyd wat sy doen nie. Ons het dadelik toe ons agterkom sy is weg, in die kar geklim en begin soek.” Die laaste keer het hulle haar in Nelspruit gekry. Hulle het ‘n vermiste persoon saak by die polisie gaan oopmaak. “Hierdie keer is dit nie so maklik soos laas om haar op te spoor nie. Ek is net bang dat ons dié keer te laat is, dat ons haar nie gaan kry nie – dalk nie lewendig gaan kry nie.” Indien enige iemand vir Selomie gewaar, kontak asseblief dadelik vir Christien by 071-935-8770
