CrimeHard newsNewsNews

Bekende inwoner van Witrivier dood in ongeluk

Smit het by "On the rocks" in Rocky Drift gekuier en was op pad huis toe toe die ongeluk net voor 20:00 gebeur het - naby die Curlews-afdraai op die Plaston-pad

PLASTON – ‘n Gestremde inwoner van ‘n hoewe naby Witrivier is Saterdagaand dood toe sy bakkie met ‘n ander een gebots het.

Mnr. Callie Smit (49) het 10 jaar gelede sy regterbeen in ‘n motorfietsongeluk by die Paradise Rally op Graskop verloor en was Saterdagaand wéér in ‘n ongeluk wat sy lewe sou eis.

Smit het by “On the rocks” in Rocky Drift gekuier en was op pad huis toe toe die ongeluk net voor 20:00 gebeur het – naby die Curlews-afdraai op die Plaston-pad. Volgens nooddienswerkers op die toneel het Smit se Ranger ‘n Toyota-bakkie op die kant getref.

Smit is op die toneel dood verklaar. Twee insittendes van die Toyota-bakkie is ook op die toneel dood verklaar en ‘n derde is na Rob Ferreira Hospitaal vervoer. Teen druktyd was sy toestand nog ernstig.

Die twee oorledenes van die Toyota is onderskeidelik 26 en 33 jaar oud. Hulle name is nie bekend nie omdat hulle naasbestaandes nog nie van hulle dood in kennis gestel is nie.

 

Smit was die eienaar van D Mac Auto in Witrivier. Hy laat sy vrou, Ina en kinders Rozanne de Jager (26) en Jaco (23) agter. Smit was ‘n ywerige sportman en me. Smit het by navraag gesê dat die ongeluk 10 jaar gelede waarin hy gestrem gelaat is, hom nie teruggehou het nie.

Sy het bygevoeg dat familie en vriende sy spontane lewensuitkyk sal mis en dat sy plek in hulle harte nooit gevul sal kan word nie. Verskeie boodskappe van medelye is op die Smits se Facebook-blaaie geplaas.

‘n Roudiens word Saterdag om 10:00 vir Smit vanuit Manna Christian Fellowship naby Rocky Drift gehou.

• In ‘n ander voorval Saterdag, is twee voetgangers op die N4 naby Alkmaar deur ‘n Toyota Tazz wat in Gauteng se rigting onderweg was, doodgery. Die voetgangers, ‘n man en ‘n vrou, het na bewering die pad oorgesteek en voor die Tazz beland. Hulle is getref en albei is op die toneel dood verklaar.

Sake van strafbare manslag is na albei ongelukke geopen en word ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button