Man ernstig gewond tydens plaasaanval
Ockert het glo met die skietwond gekruip tot by ‘n buurman se plaas. Hy is na Mediclinic Nelspruit gehaas.
LYDENBURG – ‘n Tweede plaasaanval in die bestek van twee maande het Vrydagoggend plaasgevind.
Mnr. Ockert en me. Jana Lombard is deur vier rowers oorval op hulle plaas slegs ‘n paar kilometer buite die dorp op die Roossenekalpad.
Na wat verneem word is Ockert in die maag geskiet. Volgens polisie verslae het die rowers glo toegang deur die kombuisventers verkry.
Die egpaar is in hulle slaap aangeval. Na hy geskiet is, het van die rowers hom saam met hulle buite toe gesleep. Jana is met ‘n mes en Ockert se pistool aangehou terwyl hulle elektroniese toestelle, ‘n geweer, twee magasyne, verskeie selfone en ‘n tablet na haar Rav4 gedra het.
Me. Leza Coreejes, suster van Jana, haar man mnr. Pieter Coreejes en hulle ma wat in ‘n huis slegs enkele meters verder bly, is egter ongedeerd.
Sy het aan die koerant vertel dat die inbrekers glo vir Ockert en Jana gesê het dat hulle hulle al vir die afgelope drie maande dophou.
Terwyl twee van die rowers met Jana in die kar gesit het, het ‘n ander nadergehardloop en glo gesê dat daar iemand op pad is.
Hulle het weggehardloop met van die selfone, ‘n tablet, Ockert se geweer en twee magasyne.
Ockert het glo met die skietwond gekruip tot by ‘n buurman se plaas. Hy is na Mediclinic Nelspruit gehaas. Die koerant verneem dat hy in ‘n kritieke toestand is en steeds in die teater is.
Niemand is nog inhegtenis geneem nie.
