Wilde perde is die slagoffers van spoedvrate en toordokters
Twee wilde perde, 'n hings en 'n vul, is vandeesweek deur besoekers raakgery en moes van kant gemaak word.
KAAPSEHOOP – ‘n Groot trekpleister van dié gewilde toeristedorpie is sy wilde perde.
Laevelders en toeriste van oraloor kom hierheen om aan die perde te vat en hulle te voer. Maar dit, volgens kenners, is juis wat hierdie diere se bestaan bedreig.
Twee wilde perde, ‘n hings en ‘n vul, is vandeesweek deur besoekers raakgery en moes van kant gemaak word.
Volgens inwoners wat al jare lank na die perde omsien, gaan sowat 30 jaarliks dood, waarvan 20 raakgery word en weens gebreekte bene uitgesit moet word.
“Die groot probleem is dat hulle na die pad gelok word deur toeriste wat hulle voer,” sê inwoner me. Reinette van Niekerk. “Die perde loop na die pad toe omdat hulle mense en voertuie met kos assosieer. Dan ry mense hulle raak, waarna die meeste net wegry.”
Van Niekerk woon al 11 jaar op die dorpie en het persoonlik al byna 50 wilde weeskindperde hans grootgemaak. “Hulle ma’s word doodgery en die pa is meestal afwesig in ‘n vul se lewe.”
Van Niekerk sê dat omtrent 90 persent van dié wat raakgery word, merries is.
“Daar is op die oomblik vyf hingste vir elke merrie, pleks van meer merries per hings.”
Dié statistiek kan moontlik bydra tot die afname in Kaapsehoop se wilde perdgetalle.
Die dorpie word boonop dikwels met ‘n digte miskombers bedek en paaie wat na daarna lei, kronkel geweldig.
“Die perde staan in die pad en loop nie. Mis lei tot swak sigbaarheid en motoriste kom om die draaie gejaag.
“Die perde bly dus dikwels in die slag,” het sy verduidelik.
Motoriste is ook nie die enigste menslike bedreiging nie. “Toordokters gebruik hulle gesigsvel, binnegoed en geslagsorgane vir moetie,” vertel sy.
“Een hings rondom April hulle vang elke jaar. Die toordokters gebruik dit glo vir goeie geluk.
Die veld is ook vol strikke van mense wat hulle vang en eet.”
Besorgde inwoners het nege jaar gelede ‘n fonds gestig om veeartsrekeninge en enige ander uitgawes te dek.
Van Niekerk en me. Maxi Erasmus beheer die fonds. “Om die perde te verdoof en te vervoer kos ‘n groot klomp geld,” sê Van Niekerk.
Elke toediening van die verdowings-middel kos R1 800, en dan word hulle nog geopereer ook.
Dit is dus onmoontlik om elke perd te red, daarom word baie van hulle van kant gemaak.
“As die dier te erg beseer is of nie deel van ‘n sterk bloedlyn is nie, sit ons hulle uit. Skenkings is skraal, so die geld word meestal gedurende die dorp se White Elephant-verkoping ingesamel,” sê sy.
Sy het besoekers aan Kaapsehoop intussen gemaan om liefs nie die perde te voer nie en hulle eerder van ‘n afstand te bewonder.
As lesers tot die fonds wil bydra, kan hulle die besonderhede hieronder gebruik.
Bank: Capitec
Takkode: 470010
Rekeningnaam: Kaapsehoop Wild Horse Fund
Rekeningnommer: 1179652841
Verwysing: Kaapsehoop Horses.
